Goeie Nuus
BULLETIN 4 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaans-gebore professor, Michele Dougherty, het geskiedenis gemaak deur die eerste vrou te word wat aangestel is as die Koninklike Sterrekundige in die 350-jarige geskiedenis van die Britse organisasie. Dougherty is gebore in KwaZulu-Natal en het haar liefde vir die ruimte onder die suidelike hemelruim ontdek. Haar baanbrekerwerk met NASA se Cassini-sending en Europa se Jupiter-verkenning het tot wêreldwye erkenning gelei. Sy beklee nou een van Brittanje se mees gesogte wetenskaplike titels. Dougherty hoop haar aanstelling moedig jong meisies aan om groot te droom.
# ‘n Nuwe wêreldrekord is ʼn Kaapstad opgestel toe een-duisend-276 marimba-spelers saam by die Grand West Arena opgetree het. Die geleentheid het die Guinness-wêreldrekord vir die grootste marimba-samespel verbeter. Die vorige wêreldrekord was 550 spelers tydens ʼn geleentheid in Guatemala. Die samespel het talentvolle musikante tussen agt- en 62-jaar byeengebring. Die kinders kom van meer as 70 skole in Suid-Afrika en twee van Zimbabwe. Die groep het tien minute lank ʼn keurspel gespeel wat liedjies soos Waka Waka en Jerusalema ingesluit het.
# Navorsers van die Universiteit van Pretoria het vyf groot eerbewyse verower op die gesogte Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum-South32, wat dikwels beskryf word as Suid-Afrika se “Wetenskap-Oscars”. Die toekennings vier uitnemendheid in wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en vernuwing. Een van die wenners is professor Namrita Lall, wat die Innoverings-toekenning vir KMMO’s ontvang het. Sy is erken vir haar baanbrekerswerk in die ontwikkeling en kommersialisering van farmaseutiese en kosmetiese middels wat van medisinale plante verkry word. Professor Lise Korsten is vereer met die Lewensprestasie-toekenning vir haar buitengewone bydraes tot voedselveiligheid en plantgesondheid.
# Kaapstad se biblioteke gaan dié week ‘n reeks geleenthede aanbied tydens Nasionale Wetenskapweek insluitend wetenskapsdemonstrasies, praatjies en chemiese proefnemings. Die tema vir vanjaar is Wetenskap, Tegnologie en Vernuwing vir Almal. Die burgemeesterkomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê hulle het ‘n opwindende program wat ontwerp is om nuuskierigheid, leergierigheid en oop deure vir deelnemers aan te moedig:
# En ten slotte: Marvel se The Fantastic Four: First Steps, met Pedro Pascal in die hoofrol as die wetenskap-genie Reed Richards wat ʼn ruimtesending saam met sy vrou lei, is in sy tweede naweek steeds die nommer een by Noord-Amerikaanse kaartjiekantore. Universal/DreamWorks Animation se nuwe gesinsfliek, The Bad Guys 2, is tweede en Paramount se The Naked Gun met Liam Neeson en Pamela Anderson in die hoofrolle, was in sy eerste naweek derde. James Gunn se Superman het sy vierde plek afgestaan aan Universal se Jurassic World Rebirth en is nou vyfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….