Goeie Nuus
BULLETIN 1 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van die Witwatersrand sê die Rhisotope-projek is amptelik in bedryf wat renosters doeltreffend deur kerntegnologie sal beskerm. Die projek wil onwettige handel in renosterhoring bekamp deur laevlak-radioaktiewe isotope in die horing te plant. Die projek se uitvoerende hoof, Jessica Babich, sê hierdie radio-isotope kan opgespoor word deur toerusting by landsgrense reg oor die wêreld wat sal toelaat dat gesmokkelde horings onderskep word:
# Kaapstad se beroemde stadsaal-horlosie slaan weer nadat dit ten volle gerestoureer is. Die horlosie, wat in 1905 ingesit is, is in Maart vanjaar verwyder vir herstelwerk aan die klokke en slagwerk-meganisme. Die horlosie het die ikoniese agtergrond geword vir vele belangrike gebeure op die Parade, soos die aanskakel van die feesliggies en die begin van die Kaapstadse Fietstoer. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê beroemde stede word gebou op klein besonderhede en sterk beginsels:
#Die Universiteit van Johannesburg sê Teater 101, ‘n unieke interdissplinêre leerondervinding gerig op die herverbeel van die toekoms van teater, was ‘n groot sukses. Meer as 300 tweedejaarstudente het aan die projek deelgeneem. Die studente in teaterontwerp, bemarking, mode-ontwerp en skone kunste, het twee weke lank werk aangebied wat geïnspireer is deur The Bacchae of Euripides: An African Ballet. Hulle moes temas vanuit verskillende oogpunte van ontwerp, insluitende stel- en kostuumontwerp en die maak van juwele vir die ballet ondersoek. Die ballet open volgende jaar in die Joburg-teater.
# Krieket: Die linkerhandse draaiboulers Keshav Maharaj en Nonkululeko Mlaba is op Krieket Suid-Afrika se toekenningsgeleentheid in Johannesburg aangewys as onderskeidelik mans- en vrouespeler van die jaar. Kaptein Temba Bavuma, wat die Proteas in hul eerste Wêreld-toetskampioenskap-sege gelei het, is aangewys as toetsspeler en ondersteuners se gunsteling van die jaar. Heinrich Klaasen, wat uitgetree het, is die eendagspeler van die jaar en Anrich Nortjé die T20-speler van die jaar. Annerie Dercksen is aangewys as vroue-eendagspeler van die jaar.
# En ten slotte: Amerika se gewese visepresident, Kamala Harris, het ‘n boek geskryf met die titel, 107 Days. Dit gee ʼn kykie agter die skerms van haar ervaring van die kortste presidentsveldtog in moderne geskiedenis. Die boek handel oor haar veldtog vandat oudpresident Joe Biden aan die wedloop onttrek het tot Donald Trump se oorwinning in November. Harris sê die boek is baie persoonlik:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….