Goeie Nuus
BULLETIN 30 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die eThekwini-munisipaliteit het die land se eerste Wêreld-handelsentrum in die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konvensiesentrum opgerig. Dit maak Durban die eerste Suid-Afrikaanse stad om by die toonaangewende Wêreld-handelsentrumvereniging aan te sluit. Durban is nou deel van ‘n wêreldwye netwerk van meer as 300 wêreld-handelsentrums in byna 100 lande en sluit stede soos New York, Tokio, Amsterdam en Nairobi in. eThekwini se woordvoerder, Thembo Ntuli, sê die lisensie gee Durban toegang tot ʼn internasionale ekostelsel van meer as ʼn miljoen geaffilieerde maatskappye:
# ‘n Professor aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Johns Hopkins-universiteit, Lucy Allais, is die eerste vroulike Suid-Afrikaanse filosoof wat as lid van die Amerikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskap toegelaat is. Huidige lede verteenwoordig vernuwende denkers in elke veld en beroep, insluitend meer as 250 Nobel- en Pulitzerpryswenners. Allais sluit haar aan by 16 ander Suid-Afrikaanse lede van die akademie. Sy sê sy voel geëerd deur die erkenning en voeg by sy is verbind tot die ontwikkeling van ‘n geslag van denkers.
# Die Noordwes-Universiteit is benoem as een van die top drie universiteite in Suid-Afrika in die kategorie Beste Loopbaandiens tydens die toekennings van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die indiensneming van Gegradueerdes. Die toekennings vier uitnemendheid en vernuwing met nagraadse indiensneming en ontwikkeling. Die kategorie Beste Loopbaandiens word bepaal deur terugvoer van werkgewers en nagraadse studente, en gee erkenning aan instellings wat uitstekende ondersteuning bied in die voorbereiding van studente vir die arbeidsmag. Die universiteit sê die benoeming is ‘n weerspieëling van die passie wat hy vir sy studente het.
# Die tegnologiereus, Huawei (Whaa-wei), het beurse van twee-miljoen-rand toegeken aan presterende IKT-studente aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie. Dis deel van ʼn samewerkingspoging tussen die universiteit en Huawei, wat topstudente ondersteun en TUT se teenwoordigheid in die digitale ruimte bevorder. Intussen het meer as ʼn duisend studente deur die TUT-Huawei ICT Academy reeds opleiding en sertifikate ontvang in opkomende tegnologievelde soos kubersekerheid en 5G.
# En ten slotte: SANparke vier môre Wêreldnatuurbewaarderdag in die Tafelberg-nasionale park in Kaapstad. Die dag is ‘n geleentheid om bewaarders wat in die uitvoering van hul pligte dood of beseer is, te herdenk en te vereer, en hul toewyding aan die bewaring en beskerming van die land se natuurlike en kulturele erfenis te vier. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, is ook deel van die geleentheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….