Goeie Nuus
BULLETIN 29 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Department van Handel, Nywerheid en Mededinging sê Suid-Afrikaanse maatskappye het belowende terugvoer gekry op die Internasionale skou vir die verdegingsbedryf in Istanbul, Turkye. ‘n Maatskappy wat beskermende klere vervaardig, Imperial Armour, het 12 uitnodigings van tien lande ontvang om sake te doen, terwyl Canvas and Tent, wat kamptoerustingstelsels vervaardig, ‘n vertroulike ooreenkoms met ‘n Europese maatskappy gesluit het. Die departement het die skou as ‘n sukses vir verdedigings-uitvoerders bestempel.
# Die Universiteit van die Vrystaat het deelgeneem aan ‘n baanbrekers-projek van robotiese prosedures wat ten volle geborg is ter ere van wyle oud-president Nelson Mandela. Vier chirurge het ses robotiese prosedures oor vier spesialisgebiede op ses pasiënte uitgevoer. Professor Anthea Rhoda van die universiteit sê robotiese chirurgie het ‘n kragtige instrument geword om gesondheidsongelykheid teen te werk, die openbare gesondheidsorgstelsel te bemagtig en genesing en waardigheid in die hande te plaas van mense wat dit die nodigste het.
# Die Wildernis is aangewys as die Wes-Kaapse finalis in kykNET se 2025 Dorp van die Jaar-kompetisie. Die kompetisie vier die beste dorpe in die nege provinsies en Namibië. Die George-munisipaliteit se woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, sê die gesogte prestasie sal aansienlike blootstelling en belegging na die streek bring. Sy sê die kontantprys van ‘n miljoen-rand sal gebruik word om die Wildernis-wandelpad te herstel:
# Professor Habib Noorbhai van die Universiteit van Johannesburg se jongste boek het die Kindle Top 100 gehaal. Die boek se titel is Roadmap of the Professoriate: Strategic Guidance for Progression from Graduate Student to Professor. Dit bied praktiese en strategiese riglyne vir die reis van nagraadse studies tot volle professoraat. Noorbhai sê hy hoop die boek bied ‘n kaart, nie ʼn kortpad nie, maar ʼn riglyn om die misterie uit die reis te haal en ander aan te moedig om te volhard.
# En ten slotte: ‘n Rooipanda-tweeling is in ‘n dieretuin op die Isle of Wight in die suide van Engeland gebore nadat die ouers verlede jaar aan mekaar voorgestel is. Die tien-jaar-oue ma, Xiao, is gepaar met ‘n 10-maande oue mannetjie, Flint, wat van Belfast se dieretuin ingevoer is. Die welpies sal in die nesbokse bly tot hulle minstens drie maande oud is. Die bedreigde spesie leef in die oostelike Himalajas en China met getalle wat dramaties afneem. Rooipandas word gejag vir hulle pels, gevang in slagysters en bedreig deur ontbossing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….