Goeie Nuus
BULLETIN 15 April
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Mededingingskommissie sê hy ontvang steeds internasionale erkenning – dié keer vir sy vooraanstaande mark-ondersoek na aanlyn intermediëre platforms. Die kommissie se woordvoerder, Siyabulela Makunga, sê sy mark-ondersoekspan het onlangs op die 2024 Anti-Trust Writing Awards in Washington twee toekennings ingepalm. Makunga sê een was vir ‘n finale verslag en beslissing, en nog een vir ‘n akademiese artikel oor die mededingingsdinamika in Suid-Afrika se digitale reis- en toerismemark:
# Volgens voorlopige syfers van Desember verlede jaar tot Februarie vanjaar, het 466-duisend-469 internasionale passasiers by die Kaapstadse Internasionale Lughawe aangekom. Dit ondersteun net meer as nege-duisend-300 werksgeleenthede reg oor die Wes-Kaap. Die LUR vir Finansies en Ekonomiese Geleenthede, Mireille Wenger, sê dis duidelik dat die provinsie ‘n toerismebestemming van wêreldgehalte is met die beste brandewyn, wyn, kos en olyfolie:
# Die reekse American Fiction en Succession was die grootste wenners op die Writers Guild-toekennings wat gelyktydig in New York en Los Angeles aangebied is. Succession van HBO het die beste dramareeks en beste drama-episode gewen. Die Oscar-wenner Cord Jefferson het die toekenning vir beste aangepaste draaiboek vir American Fiction ontvang, asook die Paul Selvin-toekenning. Ander wenners was The Bear, Beef, en The Last of Us. Die beste komedie of verskeidenheidsprogram was Last Week Tonight met John Oliver.
# Die Sandtonse Dierebeskermingsvereniging se boeke-hoekie het 500-duisend-rand ingesamel deur tweedehandse boeke te verkoop. Die winkel in die Morning Glen-winkelsentrum in Gallo Manor, Johannesburg, verkoop die boeke vir 50- tot 90-persent goedkoper as die kleinhandelprys. Die hoofbestuurder, Stephen Mailia, sê skenkings en boekverkope is noodsaaklik vir hulle bedrywighede, wat sterilisasieveldtogte vir diere, uitreik- en opvoedingsprogramme insluit. Hy sê dit kos sowat 800-duisend-rand per maand om die DBV te bedryf.
# En, die Olimpiese vlam word vandag in Griekeland aangesteek waarna dit na Frankryk geneem sal word vir vanjaar se Spele in Parys. Die vlam word in Olimpia aangesteek waar die antieke Spele ontstaan het. Dit sal volgende Vrydag aan die organiseerders van die Spele oorhandig word in Athene, waar die eerste moderne Olimpiese Spele in 1896 gehou is. Van daar sal dit met ‘n 19de-eeuse vaartuig na Frankryk geneem word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….