Goeie Nuus
BULLETIN 28 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Grammy-bekroonde Suid-Afrikaanse ster, Tyla, tree in September op op die 2025 Global Citizen-fees op Central Park se groot grasperk in New York. Die hoofkunstenaars is The Weeknd en Shakira. Ayra Starr van Nigerië en Mariah the Scientist tree ook op. Vanjaar se geleentheid plaas Afrika-stemme in die kollig op die verhoog en ook deur voorspraakveldtogte soos dié wat toegang tot energie wil voorsien aan ‘n miljoen mense op die vasteland.
# Navorsers aan die Universiteit van Kaapstad is deel van ‘n baanbreker wêreldwye kliniese proefneming om oorerflike angio-edeem te behandel. HAE is ‘n seldsame, lewensgevaarlike genetiese afwyking wat swelling in die ledemate, gesig, dermkanaal en lugweg veroorsaak. Volgens die Allergie-stigting van Suid-Afrika toon vroeë uitslae belowende vermindering in angio-edeem-aanvalle. Die Universiteit van Kaapstad se betrokkenheid is ‘n belangrike stap vir geenterapie in Suid-Afrika en plaas die vasteland aan die voorpunt van wêreldwye geenredigerings-vernuwing.
Johnny Mahlangu van Wits-universiteit is intussen deel van ‘n wêreldwye span agter deurbraak-geen-terapie vir hemofilie A. Die ontwikkeling van hierdie behandeling is ‘n belangrike mylpaal in internasionale geen-terapie-navorsing. ‘n Fase 1-toets in Indië het getoon dat pasiënte vir meer as 27 maande bloedingvry bly nadat hulle met hierdie gemodifiseerde virus ingespuit is. Indien dit deur die Voedsel- en Medisyne-administrasie goedgekeur word, kan dit die tweede geen-terapie vir hemofilie A word, wat ‘n langtermyn-alternatief vir lewenslange Faktor-Agt-vervangingsterapie bied.
Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch, onder leiding van Shahida Moosa, gebruik intussen Kunsmatige Intelligensie en masjienleer om ultra-skaars genetiese afwykings te diagnoseer. Deur gesigsontleding met eksoom-volgorde-bepaling te kombineer, het hul benadering ‘n diagnostiese opbrengs van 51-persent in hul eerste 100 pasiënte behaal. Die projek is daarop gemik om oor Afrika uit te brei en onderverteenwoordiging in globale datastelle teen te werk. Die span bou plaaslike vermoë in genomika, met gereedskap wat toeganklik gemaak word vir organisasies sonder winsbejag wat presisie-geneeskunde nader aan onderbediende gemeenskappe bring.
# En Marvel se jongste strokiesboek-verwerking, The Fantastic Four: First Steps, het op sy eerste naweek koning gekraai by Nood-Amerikaanse kaartjiekantore. Die fliek se sterre is Pedro Pascal as die wetenskap-genie Reed Richards, wat ‘n ruimtesending lei saam met sy vrou Sue Storm, vertolk deur Vanessa Kirby, en Joseph Quinn as haar broer Johnny Storm. Superman met David Corenswet in die hoofrol is tweede en Universal se Jurassic World Rebirth derde. Apple se F1: The Movie is vierde en Paramount se teken-blyspel, Smurfs, voltooi die topvyf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….