Goeie Nuus
BULLETIN 23 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Oos-Kaapse Departement van Gesondheid werk saam met die Smile-stigting deur die Frere-hospitaal in Oos-Londen om lewensveranderende operasies te doen op kinders met gesigsafwykings en brandwonde. Dit is deel van hul belofte tydens Glimlag-week. Vyftien kinders gaan prosedures ondergaan. Die departement se woordvoerder, Siyanda Manana, sê dit sluit in operasies van ‘n gesplete lip- of verhemelte en gespesialiseerde brandwondbehandelings, om nie net hul voorkoms te verbeter nie, maar ook hul selfvertroue en welstand te herstel:
Projek Flamingo het intussen op ‘n enkele dag altesaam 39 borskankeroperasies uitgevoer in vyf Oos- en Wes-Kaapse staatshospitale. Die projek deur vrywillige mediese spanne help om die agterstand in chirurgie in te haal by Groote Schuur, Tygerberg, George se streekshospitaal, Livingstone en Cecilia Makiwane. Die operasies is deel van die organisasie sonder winsbejag se mikpunt om een-duisend-800 operasies uit te voer. Projek Flamingo het ook die Make Space for Her-veldtog van stapel gestuur, wat op billike vrouegesondheidsorg en voortgesette skenkerondersteuning gerig is.
# Twee studente van die Universiteit van die Witwatersrand het deelgeneem aan vanjaar se konferensie vir studentebetrokkenheid en jeugleierskap in Vilnius, Litaue. Meer as 40 studente-gemeenskapsbouers uit verskeie wêrelddele het dit bygewoon. ‘n Derdejaarstudent in Sielkunde en Volkekunde, Ntlahla Sikwana, het haar projek wat op geletterdheid fokus, Hand aan Hand vir Hoop, ten toon gestel. ʼn Derdejaarstudent in Regte, Tessa Tshuma, het die Jan Hofmeyer-gemeenskapsdienste-projek ten toon gestel wat agtergeblewe gemeenskappe ophef.
# Avuzwa Noko, wat ‘n meestersgraad in Beeldende Kunste aan die Universiteit van Fort Hare behaal het, is aangestel as ‘n mede-kunsafslaer in die Park West-galery in die Amerikaanse deelstaat Michigan. Dis die wêreld se grootste kunshandelaar. Park West is bekend vir sy galerye aan boord van luukse passasierskepe, en het reeds meer as drie-miljoen kliënte aan die versamel van kunswerke bekendgestel. Noko het vroeër vanjaar bekendheid verwerf toe sy alleen-uitstalling in die Ann Bryant-galery in Oos-Londen in die Oos-Kaap te sien was.
# En ten slotte: Die uiters gewilde Pokémon-franchise gaan sy eerste permanente temapark in die lente van 2026 in die Japanse hoofstad, Tokio, open. Die Pokémon-maatskappy, ‘n filiaal van die Japannese spelreus Nintendo, het die aankondiging gedoen. Japan het die afgelope maande ‘n rekordgetal besoekers verwelkom, wat die vraag na toeriste-aantreklikhede verhoog het, insluitend ‘n “Making of Harry Potter“-rolprentateljee-park wat in 2023 in Tokio geopen is. Die nuwe gebied van 2,6-hektaar, genaamd “PokePark Kanto“, sal binne die stad se grootste pretpark, Yomiuri Land, geleë wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….