Goeie Nuus
BULLETIN 18 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Lanseria Internasionale Lughawe in Gauteng bied sy tweede jaarlikse Nelson Mandeladag-loopbaantentoonstelling aan met die tema Laat jou drome vlerke kry. Die tentoonstelling verwelkom meer as 400 leerders uit verskeie skole, en bied leiding van top-kundiges in lugvaart, verdediging en tegnologie. Die tentoonstelling, geborg deur SAAB Grintek Verdediging, Axis Lugvaart en die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid, bevorder Mandela se nalatenskap van vernuwing, onderwys en geleenthede. Lanseria het geskiedkundige waarde as die lughawe waar Mandela geland het na sy vrylating uit die Victor Verster-gevangenis in 1990.
# Die Walter Sisulu Universiteit se studente-liggaam van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Openbare Administrasie en Bestuur het ‘n skenkingsveldtog begin om gesinne te steun wat deur die verlede maand se oorstromings in die Oos-Kaap geraak word. Altesaam 103 mense is dood en duisende ontheem tydens die oorstromings, wat veral die OR Tambo- en die Amathole-distrik getref het. Die vereniging het reeds hulpvoorraad versprei onder gesinne in die Slovo-gebied in Mthatha. Die organisasie sê deernis en goedhartigheid maak ʼn verskil in tye van nood.
# ʼn Fisikus aan die Universiteit van die Witwatersrand, professor Andrew Forbes, en ‘n pediatriese neurosjirurg aan die Universiteit van Kaapstad, professor Anthony Figaji, het die Harry Oppenheimer-genootskapstoekenning van 2,5-miljoen-rand ontvang. Die prys vereer geleerdes wat betrokke is by baanbrekende, internasionaal-erkende navorsing. Forbes se navorsing kan die lewensvatbaarheid van kwantum-rekenaarwetenskap ontsluit terwyl Figaji s’n Suid-Afrika die middelpunt van lewensbelangrike vordering in die behandeling van pediatriese breinbeserings kan maak.
# ‘n Seldsame stuk van Mars is vir 77-miljoen-rand verkoop op ‘n veiling in New York. Die grootste Mars-meteoriet wat ooit op aarde gevind is, bekend as NWA 16788, weeg 24,5-kilogram en is byna 38 sentimeter lank. Volgens Sotheby’s is dit in November 2023 in ‘n afgeleë streek van Niger ontdek en is 70-persent groter as die vorige stukke van Mars wat op die aarde beland het. Ongeveer 400 Mars-meteoriete is tot dusver op aarde gevind.
# En ten slotte: Die Zip Zap-sirkus se jongste vertoning, Chasing Dreams, is die naweek by die Dome in Kaapstad se middestad te sien. Dit handel oor The Dreamer, wat wakker word maar onseker is of sy nog droom. Sy gaan op ʼn reis deur die tonele waar sy haar drome najaag en uitdagings oorkom. Tamryn Escalante van Zip Zap sê die storie word vertel deur asemrowende lugtoertjies, energieke akrobatiese optrede en interessante choreografie deur die volle spektrum van Zip Zap se buitengewone talent:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….