Goeie Nuus
BULLETIN 17 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, sal môre ‘n Mandela-dag-viering in Alexandra, Gauteng, lei. Mandela-dag se tema vanjaar is Dis steeds in ons hande om armoede en ongelykheid te beveg. Motshekga sal ʼn geleentheid bywoon wat georganiseer is in samewerking met die Suid-Afrikaanse Nasionale Diensinstituut en die Guardian Angel-natuurlewe- en marienetrust. Die geleentheid sluit in ʼn parade en vertoning deur die Nasionale Weermag, ʼn boomplantseremonie en die bekendstelling van die Keep Your Kasi Clean-veldtog.
Die Gautengse Gesondheidsdepartement sal intussen Mandela-dag vier met sy derde operasie-marathon, en fokus op lewensveranderende operasies soos prostaat-, katarak-, gesplete verhemelte- en stoma-operasies. Meer as ‘n duisend operasies word in openbare hospitale beplan in vennootskap met privaat gesondheidvoorsieners. Motalatale Modiba van die department sê die LUR, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sal belangrike inrigtings soos die opgegradeerde urologie-eenheid van die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal heropen, asook die borssentrum van uitnemendheid by Helen Joseph:
# Die Vrystaatse Kunstefees vier vanjaar 25 jaar van kulturele rykdom by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Die feesdirekteur, Michael Garbett, sê die fees gaan steeds voort om uiteenlopende stemme, genres en kunsvorme ten toon te stel. Vanjaar se program sluit in 72 produksies, 21 boekgesprekke en internasionale optredes deur vennootskappe. Daar word ook hulde gebring aan Nico Luwes, ‘n ervare professor in drama en teaterkuns en professionele dramaturg en teaterregisseur wat ‘n belangrike figuur in Vrystaatse teater was.
# n Span van drie studente van die Universiteit van Fort Hare se Departement Dier- en Weidingkunde het die nasionale debatskompetisie gewen op die 55ste kongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Dierkunde. Elke debat het twee spanne gehad, een wat vir en een wat teen die mosie gedebatteer het. Die debatonderwerpe het sleutelkwessies in moderne landbou verken, insluitend die rol van voedingstrategieë, genetiese modifikasie en kunsmatige intelligensie in klimaatslim boerdery. Die span van Fort Hare, met die naam Ruminant Rebels, het die Noordwes-Universiteit se Purple Army-span in die eindronde geklop.
# En ten slotte: Die Amerikaanse Olimpiese gimnas, Simone Biles, en die NBA-basketbal-eindstryd se waardevolste speler, Shai Gilgeous-Alexander van Kanada, is as beste vroulike en manlike atleet gekroon op die jaarlikse toekennings vir uitstaande sportprestasies, die ESPYS, in Los Angeles. Biles is ook vereer vir die beste kampioenskapsprestasie vir haar drie gouemedaljes op die Olimpiese Spele in Parys. Die Amerikaanse rugby-ster Ilona Maher is aangewys as beste deurbraak-atleet. Die Philadelphia Eagles, wat in Februarie hul tweede Super Bowl gewen het, is as beste span bekroon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….