Goeie nuus
BULLETIN 11 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Talle kinders het sedert Dinsdag rekonstruktiewe operasies ondergaan in die Dr George Mukhari Akademiese Hospitaal in Ga-Rankuwa, Pretoria, as deel van Glimlagweek. Teen die einde van die week sal 22 kinders geopereer wees, danksy die Smile-stigting en die Good Morning Angels. Die stigting het sedert sy ontstaan in 2002 meer as vierduisend kinders uit benadeelde agtergronde bygestaan met rekonstruktiewe chirurgie vir gesplete lippe en verhemeltes, gesigverlamming en brandwonde.
Die Universiteit van die Witwatersrand sê intussen hy sal voortgaan om oor- en gehoorsorgdienste aan plaaslike gemeenskappe te lewer. Verlede maand is 26 kinders en 73 volwassenes gratis getoets. Meer as 20 mense is na staatsklinieke of -hospitale verwys vir nog diagnostiese toetse. Professor Karin Joubert van Wits sê een van die dinge wat keer dat mense gehoorsorg soek, is die stigma wat aan gehoorverlies kleef. Sy sê indien die stigma verminder, sal meer mense hulp soek.
# Die Suid-Afrikaanse Gidshond-vereniging hoop om 500 gesiggestremdes by te staan deur sy Gee ‘n kierie-veldtog. Die vereniging wil 550-duisend-rand insamel om kieries vir gesiggestremdes te koop. Die vereniging se Kollege vir Oriëntering en Beweeglikheid vier sy 50ste bestaansjaar. Meer as 180 praktisyns is reeds daar opgelei en het gesamentlik reeds meer as 100-duisend gesiggestremde mense bereik. Die veldtog duur tot 18 Julie.
# Die veertienjarige Ierse aktrise Alisha Weir verskyn op die nuwe Forbes 30 Under 30-lys vir Europa. Sy is die tweede jongste in die geskiedenis wat die lys vir die vermaakbedryf haal. Ander wat op die lys verskyn, sluit in die stigters van die vinnig-groeiende Spaanse straatklerereeks Take the Nude Project, Alejandro Benlloch en Bruno Casanovas. Die 300 stigters en entrepreneurs wat op vanjaar se lys verskyn, bestaan uit 30-persent vroue, 62-persent mans en een-persent nie-binêre persone. Hulle het ‘n totale sosiale media-aanhang van meer as 262-miljoen.
# En ten slotte: Navorsers van die Universiteit van Pretoria se Departement van Soölogie en Entomologie, en die Landbounavorsingsraad, het nege nuwe valdeurspinnekop-spesies in die Groot-Karoo ontdek. Shannon Brandt van die universiteit sê daar is nou in die Groot-Karoo alleen 23 van hierdie spinnekopspesies.: