Goeie Nuus
BULLETIN 14 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Twee navorsers van die Universiteit van die Wes-Kaap, Bridget Langa en Sahar Abdul-Rasool, is besig om wetenskap die werk van superhelde te maak, met die ontdekking van genetiese leidrade oor kankerontwikkeling en -vordering. Hulle benader borskanker uit verskillende oogpunte. Langa fokus op genetika en bio-informatika, en Abdul-Rasool op molekulêre diagnostika. Langa sê saam help hulle Suid-Afrika om meer persoonlike, doeltreffender behandeling te bewerkstellig wat die land se uiteenlopende bevolking weerspieël:
# Die Universiteit van die Vrystaat is as die tweede beste instelling in Suid-Afrika vir gestremdheids-hervorming aangewys, met ‘n telling van 78-persent op die Gestremdheids-uitslag-doeltreffendheidskaal. Hy sê dit weerspieël die doeltreffende instelling van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se strategiese beleidsraamwerk oor gestremdheid in die naskoolse onderwys- en opleidingstelsel. Die ranglys is gegrond op ‘n omvattende opname deur die Vereniging vir Gestremdheidsdienste vir Hoër en Verdere Onderwys, wat beoordeel het hoe Suid-Afrikaanse universiteite studente en personeel met gestremdhede insluit en ondersteun.
# ‘n Alumnus van die Universiteit van Pretoria, JK Moeng, is aangestel as landbou-attaché in die Suid-Afrkaamse ambassade in die Italiaanse hooftad, Rome. Sy sal Suid-Afrika verteenwoordig in die middelpunt van internasionale voedselbestuur en daagliks skakel met agentskappe soos die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie en die Wêreldvoedselprogram. Moeng sê sy het grootgeword op die plattelandse dorp Matatiele in die Oos-Kaap waar hulle ‘n bestaan gemaak het uit landbougewasse en veeteelt. Sy voeg by dis waar sy geleer het landbou kan mense se voortbestaan voldoende onderhou.
# Die Knysna-oesterfees het bewys dis tydens die stil wintermaande ‘n noodsaaklike ekonomiese reddingsboei vir dié Wes-Kaapse dorp. Die Knysna-munisipaliteit se plaaslike-ontwikkelingsbestuurder, Lungiswa Goya, sê vanjaar se fees het ʼn 30-persent toename in deelname getoon. Sy sê die fees se verbintenis om terug te gee, is ʼn belangrike aspek. Skenkings aan plaaslike organisasies en dié sonder winsbejag was in 2024 meer as 450-duisend-rand.
# En ten slotte: Dit is vandag Wêreld-sjimpansee-dag en die Verenigde Nasies vereer Jane Goodall vir haar onvermoeide toewyding aan sjimpansees. Goodall het op hierdie dag in 1960 haar navorsing in die Gombe Nasionale Park in Tanzanië begin oor die belangrikheid van dié diere en die dringende behoefte om hulle en hul habitat te beskerm. Die VN sê ontbossing, onwettige jag en die vernietigende uitwerking van onwettige handel in troeteldiere laat die sjimpanseebevolking in die natuur afneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….