Goeie Nuus
BULLETIN 10 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Stad Kaapstad het die bekendstelling verwelkom van twee nuwe digitale visum-stelsels by die Department van Binnelandse Sake, wat die rolprent- en gebeurtenissektor ’n hupstoot kan gee. Die Stages-visum sal toegang tot die land vergemaklik vir internasionale rolprentmakers terwyl die Meets-visum toegang vir besoekers aan wêreldgeleenthede makliker maak. Ses-en-dertig belangrike aanbiedings word gedurende die 2024/25-boekjaar in Kaapstad verwag. Die visums behoort beleggings, toerisme en werkskepping te bevorder wat die Moederstad se posisie as ‘n wêreldwye rolprent- en gebeurtenissentrum sal versterk.
Die metro sê ook vier nuwe muurskilderye versier die mure van geriewe in Delft, Grassypark, Mfuleni en Valhallapark. Dit is deel van die Departement van Gemeenskaps-, Kuns- en Kultuurontwikkeling se poging om openbare ruimtes te verlewendig en opkomende kunstenaars te ondersteun. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê die helderkleurige kunswerke het nie net geboue laat herleef nie, maar plaas plaaslike talent ook in die kollig :
# Die Mdluli Safari Lodge, op die grens van die Krugerwildtuin langs die Numbi-hek, is ‘n werkende voorbeeld van ‘n grondeis wat in ‘n suksesvolle gemeenskapstoerisme-projekomskep is. Die direkteur van die lodge, Chris Schalkwyk, sê die visie was die breinkind van hoofman MZ Mdluli. As gevolg van omgewingsgoedkeurings en kapitaalverkryging het dit vier jaar geneem om die grond terug te kry en nog 27 jaar voor die lodge gebou kon word. Die lodge bied tans permanente werk aan 130 mense.
# Die Tien-duisend Kampioene-veldtog wat onlangs in Soweto van stapel gestuur is, is daarop gemik om tien-duisend doelgedrewe, digitaal-geskoolde en ekonomies-aktiewe jeugleiers teen 2030 te ontwikkel. Dit begin met die opleiding van die eerste 100 kampioene oor die volgende ses maande in digitale en sakevaardighede, leierskap, gemeenskapsbou en werkskepping. Die stigter, KK Diaz, sê dit is nie net ‘n projek nie, dit is ‘n beweging om Afrika se toekoms te bou deur te belê in die geslag wat dit sal lei.
# En ten slotte: Die eerste benoemings vir die 52ste Daytime Emmy’s is bekendgemaak. Daar is vanjaar net drie benoemings in die kategorie vir beste dramareeks: General Hospital, Days of Our Lives en The Young and the Restless. Vier van die ses benoemdes vir beste aktrise in ‘n sepie is van The Young and the Restless: Sharon Case, Eileen Davidson, Melissa Claire Egan en Michelle Stafford. Benoemings vir beste geselsprogram sluit in The Drew Barrymore Show, The View, en Live with Kelly and Mark.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….