Goeie Nuus
BULLETIN 7 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Een van Afrika se ontwykendste en mees bedreigde voëlsoorte, die witvlerkvleikuiken, is van die lys mees bedreigte spesies in Suid-Afrika gehaal. Dit volg na aansienlike vordering om die biologie, broeigewoontes en habitatvoorkeure van hierdie geheimsinnige voël te verstaan. BirdLife South Africa se uitvoerende hoof, Mark Anderson, sê Ethiopië het net genoeg habitat om 55 broeipare te huisves, daarom speel Suid-Afrika ‘n belangrike rol om die witvlerkvleikuiken se uitsterwing te keer.
# ʼn Oudstudent aan die Fort Hare-universiteit se Fakulteit Landbou en Wetenskap, Wandile Nikelo, verander lewens in die Oos-Kaap deur sy Sakhikamva Landbou- en Ontwikkelingsinstituut. Hy takel werkloosheid onder die jeug en voedselonsekerheid deur jongmense toe te rus met praktiese landbou- en entrepreneursvaardighede. Die instituut is in 2021 geregistreer en het sedertdien tientalle jongmense uit arm agtergronde opgelei. Nikelo sê hy gaan die instituut se kursusse uitbrei na tuisbedrywe wat opleiding in brei, naaldwerk, bak, houtwerk en rekenaargeletterdheid insluit.
# Die Viewing Room-kunsgalery in Brooklyn, Pretoria, bied hierdie maand Hardware/Softwear aan. Dis ʼn vernuwende uitstalling met hedendaagse juweliersware wat deur hipermoderne 3D-druktegnieke geskep is. Dit vertoon werk van ʼn deeltydse dosent aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Hesti Wade. TUT sê die versameling ondersoek temas van materialiteit en liggaamlikheid, en die kruising van digitale ontwerp en fisiese vakmanskap. Hy sê Wade se werk wil studente voorberei vir ʼn toenemend gemoderniseerde en tegnologies-gedrewe juweliersbedryf.
# Die sewende rolprent in die aksie-avontuurreeks wat Steven Spielberg geskep het, Jurassic World Rebirth, is die nommer-een in Amerikaanse rolprentteaters. Die rolprent, wat spog met ‘n nuwe rolverdeling met Scarlett Johansson, Mahershale Ali en Jonathan Bailey in die hoofrolle, was wêreldwyd ook die tweede gewildste. F1: The Movie, met Brad Pitt in die hoofrol was tweede met DreamWorks Animation se aksieprent How to Train Your Dragon, derde. Disney en Pixar se Elio en Sony se 28 Years Later is onderskeidelik vierde en vyfde.
# En ten slotte: Dit is vandag Wêreld-sjokoladedag en die regte dag om te smul aan die ryk, romerige bederf. Sjokolade se geskiedenis gaan meer as vyf-duisend-300 jaar terug toe die Mayo-Chinchipe-kultuur die eerste keer kakaobone in Ecuador begin gebruik het. Talle van die mees geliefde sjokoladestafies soos Cadbury se Flake, Milky Way, KitKat, Aero en Smarties is in die goue era van sjokolade-vindingrykheid in die 1920’s en ’30’s bekendgestel. Dis interessant om te weet dit neem tussen twee en vier dae om een sjokoladestafie te maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….