Goeie Nuus
BULLETIN 2 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrika maak gereed vir die Guinness-wêreldrekord vir die grootste braai. Die titel behoort sedert 2017 aan Uruguay wat 16,5 ton vleis gebraai het. Castle Lager en Big Save gaan op Erfenisdag op 24 September gasheer wees vir die wêreld se grootste braai. Om die geleentheid af te skop, het Castle die “Grillboard” onthul. Dis ‘n advertensiebord met ʼn ingeboude, werkende braai in Vilakazi-straat in Soweto wat die nasie reeds opgewonde maak oor die Trots Suid-Afrikaanse uitdaging. Handelsmerk-direkteur Thomas Lawrence sê die wêreld se grootste braai hoort in Suid-Afrika.
# City Power het die instelling van nuwe laaistasies vir elektriese voertuie aangekondig, ‘n belangrike mylpaal in Johannesburg se oorgang na skoon energie. Deel van City Power se tien-punt-energieplan sluit in die omskakeling van sy vloot na elektriese voertuie, om stadswye laai-infrastruktuur op te rig asook die bekendstelling van battery-ruilstelsels. Die woordvoerder, Isaac Mangena, sê die stap sal uitstralings en brandstofkostes verminder en vaardigheidsontwikkeling bevorder, wat Johannesburg ‘n leier sal maak in groen beweeglikheid en ekonomiese vernuwing:
# Die Universiteit van Pretoria het die vyfde speelvak bekendgestel van sy bekroonde LeadUP-potgooi, met die Tuks-oudstudent Sumarie Greybe in die hoofrol. LeadUP gee die UP-gemeenskap en die publiek toegang tot uitsonderlike Tuks-alumni en medewerkers wat geheime en die verhale van hul pad na sukses deel. Die universiteit sê die jongste speelvak is ‘n voortsetting van die potgooi se tradisie om innoveerders, leiers en ander inspirerende alumni met ‘n betekenisvolle invloed hier en wêreldwyd in die kollig te plaas.
# Die verlies aan wortelbome in die Marereni-streek in Kenia vererger die erosie van die kuslyn en beperk inwoners se inkomste. Die Amerikaanse organisasie, Seatrees, stel dié probleem reg deur sy bioverskeidenheids-kredietprogram. Die projek ondersteun meer as 600 inwoners en verskaf inkomste deur kwekerye en bewaring. Hulle het met hulp en gemeenskapsbetrokkenheid 190-duisend bome geplant, wat bioverskeidenheid en visvangste aanhelp. Herstelpogings gaan voort om die ekostelsel te verbeter en lewensgehalte te verhoog, ondanks onwettige houtkap en besoedeling.
# En ten slotte: Die wag is verby vir K-pop-bewonderaars. Die Suid-Koreaanse groep, BTS, het hulle lang-verwagte terugkeer aangekondig en beplan ʼn nuwe toer en album vir volgende jaar. Hulle het die aangekondiging gedoen met hulle eerste regstreekse uitsending nadat al die orkeslede hulle militêre diensplig voltooi het. Die groep van sewe lede sê hulle vertrek later die maand na Amerika waar hulle aan nuwe musiek sal werk wat in 2026 vrygestel word. Dis BTS se eerste wêreldtoer sedert die Permission to Dance on Stage-toer in 2022, en hulle eerste album sedert 2020.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….