Goeie Nuus
BULLETIN 1 Julie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing sê ‘n sterk kankerbestrydende middel is in die diepsee aan die suidkus ontdek. Die middel word uit ’n seldsame seewurm onttrek en toon goeie potensiaal in die behandeling van kankers soos leukemie deur kankerselle spesifiek te teiken. Daar word verwag dat die ontdekking belegging in seenavorsing, farmaseutiese middels en biotegnologie sal aanwakker. Minister Dion George sê die deurbraak bewys hoe belangrik dit is om Suid-Afrika se oseaane te beskerm, nie net vir bewaring nie, maar ook vir gesondheidsvernuwing en werkskepping.
# Meer as agt-duisend leerders sal van vandag tot Donderdag by die Rhema Bybelkerk in Randburg, Johannesburg, bymekaarkom vir die 2025 ABC Motsepe Suid-Afrikaanse Skoolkoor-Eisteddfod. Die nasionale geleentheid, wat deur die Departemente van Basiese Onderwys en Sport, Kuns en Kultuur, in vennootskap met die Motsepe-stigting, aangebied word, bied kategorieë soos opera-solo’s en klein ensembles aan. ‘n Kampioen van Kampioene-kategorie word die eerste keer aangebied om mededinging te verhoog en breër deelname van ontluikende skoolkore landwyd aan te moedig.
# Vier werknemers van die Universiteit Pretoria het 28-duisend-rand in skenkings ingesamel met hulle deelname aan die Comrades Marathon. Die geld sal na die Visekanselier en Rektor se Beursfonds gaan vir die ‘verlore middel’-studente wat nie hoër onderwys kan bekostig nie, maar wie se huishoudelike inkomste buite die finansiële kategorie vir staatsbefondsing val. André Ganswindt, Bianca Frost, Josiah Mavundla en Mfundo Nyitana het ‘n teiken van nege-duisdend-rand elk gestel. Frost het haar teiken oorskry en 11-duisend-100-rand ingesamel:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het sy heel eerste aanlyn-werwingsveldtog vir vyfduisend-500 leerlingpolisielede van stapel gestuur. Die veldtog sal tot 18 Julie duur. ‘n Woordvoerder, Amanda van Wyk, sê rekrute sal streng keuring ondergaan voordat hul opleiding van nege maande begin en sal ‘n maandelikse toelaag ontvang:
# En ten slotte: Absa in Mauritius beplan om die befondsing vir groen projekte teen 2030 byna te verviervoudig om die eiland-nasie se doelwitte vir die vermindering van uitstralings te ondersteun. Moneyweb berig die eenheid van die Absa-groep, wat volgens bates die derde grootste bank in Suid-Afrika is, wil groen lenings tot 6,2-miljard-rand verhoog vanaf 1,65-miljard-rand aan die einde van verlede jaar. Mauritius het ‘n uitdagende teiken gestel om teen 2030 kweekhuisgasuitstralings met 40-persent te verminder om aardverwarming te beperk. Toenemende gevalle van oorstromings, droogte en koraalbleiking bedreig die seelewe sowel as die noodsaaklike toerismebedryf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….