Goeie Nuus
BULLETIN 30 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# CapeNature het meer as 13-duisend hektaar by die beskermde gebiede in die Wes-Kaap gevoeg om bewaringspogings te bevorder. Ondanks die uitbreiding is 30-persent van die provinsie se ekostelsels onder druk weens ontwikkeling, landbou en klimaatsverandering. Die laaste uitbreiding is deel van groter pogings om bioverskeidenheids-brandpunte en belangrike habitatte te beskerm. Meer as 828-duisend hektaar word tans amptelik bewaar in die Wes-Kaap, maar omgewingsgroepe waarsku dringende optrede is nodig om bewaringsteikens te haal en onherstelbare bioverskeidenheids-verliese te voorkom.
# Jong fotograwe van Thokoza in Gauteng stel tans hul werk ten toon op die JSE Art Share-uitstalling, as deel van Jeugmaand-vierings. Die Children of the Light-uitstalling, wat in vennootskap met Of Soul and Joy aangebied word, beklemtoon hoe mentorskap jong kunstenaars se toekoms kan verander. Of Soul and Joy bemagtig aspirant-fotograwe reeds langer as ‘n dekade. Die uitstalling het ten doel om die nuwe geslag fotograwe te inspireer deur ‘n platform vir jong kunstenaars te skep om hul unieke perspektiewe en kreatiewe talente te vertoon.
# Tshwane se Toerismevereniging het ‘n nuwe kunsmatige intelligensie-gedrewe WhatsApp-geselsbot bekendgestel om kontak met gaste te bevorder en kommunikasie in die gasvryheidsbedryf te vereenvoudig. Voorsitter Susan Marais beskryf dit as ʼn vriendelike, 24/7-platform om gaste se ervarings te verbeter. Planne sluit in om volgende jaar township-toerisme uit te brei, ʼn erfenisroete bekend te stel, vervoerskakels te bevorder en veiligheid te verbeter. Die vereniging het ook die 25ste amptelike Tshwane-gids bekendgestel terwyl die komende Toerisme-toekennings om uitnemendheid in die bedryf te vier, op 16 Augustus plaasvind.
# eThekwini se burgemeester, Cyril Xaba, het ʼn moderne sentrum van uitnemendheid vir menslike hulpbronne in Nagina, KwaZulu-Natal, gestig om die land se jeug te bemagtig. Hy sê die sentrum verskaf opleiding in digitale geletterdheid, entrepreneurskap, en programme oor loopbaangereedheid. Die sentrum sluit in ʼn ten volle toegeruste rekenaarlaboratorium met 15 rekenaars, gratis Wi-Fi, en toegang tot die stad se e-werwingsportaal. Xaba vra die gemeenskap om die sentrum te beskerm teen vernielsug en misdadige optrede.
# En ten slotte: Beyoncé moes haar vertoning in Houston onderbreek toe die motor waarin sy gesit het, in die lug begin kantel het. Die rooi Cadillac, wat aan kabels hang, dra die superster teen die einde van haar vertoning hoog bo haar bewonderaars. Tydens die naweek se vertoning het dit begin kantel en die 43-jarige sangeres moes aan ʼn vlagpaal vashou vir ondersteuning. Beyoncé se maatskappy, Parkwood Entertainment, sê in ʼn verklaring dis deur ʼn tegniese probleem veroorsaak. Sy is vinnig laat sak en die vertoning het sonder voorval voortgegaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….