Goeie Nuus
BULLETIN 27 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# President Cyril Ramaphosa het die voormalige hoofregter Raymond Zondo gelukgewens nadat hy deur die Wêreldgeregtigheidsprojek vereer is. Hy het die gesogte Oppergesag van die Reg-toekenning ontvang om erkenning te gee aan sy onversetlike toewyding aan geregtigheid en aanspreeklikheid deur sy leierskap in die staatskapingskommissie. Ramaphosa sê die regering sal Zondo vereer deur voort te gaan om op te tree volgens sy aanbevelings wat hy drie jaar gelede ingedien het.
# Rhodes Universiteit sê hy versterk vanjaar sy jare lange verhouding met die Nasionale Kunstefees met ‘n kragtige aanbieding wat navorsing en vertoonkuns kombineer. Die kern van die program is Childhood in Chalk, wat deur die universiteit se Departemente Drama- en Onderwys geskep is en handel oor die skoolboikotte in Fingo Village. Storievertel neem ʼn ander vorm aan in Umbhobho – The Red Pipe, deur die meestersgraad-student Siphosethu Mankai, terwyl die tussenspel tussen kuns en wetenskap uiting vind in die uitstalling Layers and Light. Die fees duur tot volgende Sondag.
# Die veelbekroonde sangeres, liedskrywer en maatskaplike aktivis, Simphiwe Dana, vier vandag en môre 20 jaar in die musiekbedryf met konserte in die Baxter-teater in Kaapstad. Sy sal verskeie besonderse liedjies in haar repertorium sing, insluitend dié op haar debuutalbum, Zandisile. Dana beklemtoon haar stemontwikkeling oor die afgelope 20 jaar is die bewys van haar groei oor die tydperk. Sy het aan Newzroom Afrika gesê sy het haarself nog nooit as beroemd beskou nie:
# ‘n Pas gegradueerde PhD-student aan die Universiteit Pretoria se Fakulteit Geesteswetenskappe, Megan Knoetze, hoop haar navorsing sal help om groot getalle Suid-Afrikaners te help om oor-die-toonbank-gehoorapparate te kan kry wanneer hulle dit nodig het. Anders as in Amerika waar hierdie gehoorapparate deur die Voedsel-en-medisyne-administrasie beheer word, geld dit nog nie in Suid-Afrika nie. Knoetze sê haar belangstelling in oudiologie spruit uit ‘n diep behoefte om toegang tot gehoorgesondheid wyer beskikbaar te maak.
# En ten slotte: Vier oudstudente van die Universiteit van Kaapstad het gereageer op die kommerwekkende ongeletterdheidsvlakke in die land deur ʼn bron met kinderboeke, getiteld TAQA, in videoboek-formaat te skep. Dit integreer die geskrewe, geïllustreerde en luister-dele van ʼn boek om interessante kinderstories te skep. Volgens die studie oor vordering in internasionale leesgeletterdheid kan meer as 80-persent kinders in graad 4 nie verstaan wat hulle lees nie. Die boeke is in al elf Suid-Afrikaanse gesproke tale beskikbaar terwyl die versameling in Suid-Afrikaanse Gebaretaal tans ontwikkel word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….