Goeie Nuus
BULLETIN 26 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Oos-Kaapse regering open vandag die 51ste Nasionale Kunstefees in Makhanda, wat die begin is van ‘n viering van kultuur oor tien dae. Die program sluit in Cape Ballet Africa se driedelige stuk SALT en The Talent van die Britse groep Action Hero. Athol Fugard word gedenk deur twee van sy toneelstukke, The Island en Sizwe Banzi is Dead. Die provinsie se woordvoerder, Khuselwa Rantjie, sê die fees is ‘n viering van teater, dans, musiek, komedie, visuele kuns en rolprente:
# Die Operageselskap van die Universiteit van Kaapstad en die Kaapstadse Filharmoniese Orkes bied vanaand ‘n eenmalige uitvoering van die Italiaanse komponis Giuseppi Verdi se opera, Il Trovatore, aan saam met die kragtige stemme van die AfriArts-koor. Dis die eerste keer in 20 jaar dat Il Trovatore in Kaapstad uitgevoer word. Dit is ‘n boeiende verhaal van liefde, trou en wraak wat afspeel teen die agtergrond van die Spaanse burgerloorlog in die 15de eeu. Die konsert vind in die Kaapstadse stadsaal plaas.
# Navorsers van die Universiteit van die Witwatersrand se laboratorium vir Robotika, Outonome Intelligensie en Leer verskuif die grense van kunsmatige intelligensie. Dit is deur die ontwikkeling van masjiene wat kan loop, praat, melk in ‘n koppie gooi, en selfs antieke fossielgrotte verken. Die span is besig met die ontwikkeling van robotverkenners, wat strek van robotte met bene en robotte met wiele tot hommeltuie. Professor Benjamin Rosman sê die robotte kan terrein op hulle eie karteer, uitgrawingsones uitken en data op ‘n veilige manier insamel wat vir mense gevaarlik of onbereikbaar is:
# Die 2025 Oceans 8 Charity Swim in Durban het sowat 1,1-miljoen-rand ingesamel ter onfersteuning van meer as 14 liefdadigheidsorganisasies. Ongeveer 250 swemmers het deelgeneem. Die Lamontville-swemakademie se swemmers is die eerste keer betrek en hul inskrywingsgeld is deur die Balwin-stigting geborg. Die opbrengs sal organisasies ondersteun wat betrokke is by bewaring, onderwys en die opheffing van gemeenskappe. Die organiseerder, Hilary Bruss, sê dit gaan oor gemeenskap en doelgerigtheid.
# En ten slotte: Die Oscar-benoemde Frans-Kanadese rolprentmaker Denis Villeneuve is gekies om die volgende James Bond-fliek te regisseer. Hy het onlangs die uiters suksesvolle lokettreffers Dune en Dune: Part Two geregisseer. Villeneuve sê hy is ‘n ywerige Bond-aanhanger, aangesien hy grootgeword het met James Bond-flieks saam met sy pa, sedert Sean Connery in Dr No. Die soektog is steeds aan die gang vir ‘n akteur om die spioen se rol te speel na Daniel Craig, met Aaron Taylor-Johnson, Theo James en James Norton as gunstelinge.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….