Goeie Nuus
BULLETIN 25 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die eThekwini-munisipaliteit sê Afrika se grootste perdewedren- en modegeleentheid, die Durban July, beteken vanjaar ‘n inspuiting van sowat 690-miljoen-rand in die metro se ekonomie. Volgende naweek se geleentheid op die Greyville-renbaan spog met ‘n sterbelaaide program, insluitend die veelbekroonde Afro-pop-duo Mafikizolo, die groep Sunset Sweatshop en die sangeres Lira. Die munisipaliteit se woordvoerder, Gugu Sisilana, sê sektore soos mode en tekstiele, vervoer, restaurante, hare en skoonheid, en ondernemings wat kitskos verkoop, sal by die geleentheid baat vind:
# Die hoof van die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad se Kliniese Eenheid vir Pediatriese Pulmonologie, Pierre Goussard, gaan volgende Saterdag aan die Gornergrat Zermatt-marathon in Switserland deelneem. Sy departement het dringend ‘n Olympus-bronchoskoop nodig. Die gesofistikeerde instrument stel dokters in staat om die lugweë van babas en kinders in ‘n bedenklike toestand te ondersoek. Goussard, wat ook ‘n professor aan die Universiteit Stellenbosch is, sê hy het sedert die bekendstelling van sy Given Gain-veldtog 46-duisend-760-rand ingesamel, wat sowat 12-persent van sy teiken is:
# Twee studente van die Universiteit van Pretoria, Tumelo en Owethu Mahan, is besig om naam te maak as hoë-prestasie swemmers. Die broers het die land reeds op groot kompetisies verteenwoordig, insluitend die Wêreld Junior Swemkampioenskap en die Wêreld Universiteite-spele. Owethu gaan volgende maand aan die Wêreld Universiteite-spele in Duitsland deelneem, terwyl Tumelo op die AUSC Streek 5 Jeugspele in Namibië gaan meeding. Hy sê hulle is passievol om hulle swemtalente met die gemeenskap te deel:
# Die wen-ontwerp vir ‘n nasionale gedenkteken vir koningin Elizabeth gaan ‘n brug bevat met ‘n balustrade van glas, nuwe hekke en ‘n gedenktuin. Lord Norman Foster se ontwerpspan is aangewys as wenner van die kompetisie vir ‘n gedenkteken vir Brittanje se langsdienende monarg wat in St Jamespark in sentraal-Londen opgerig gaan word. Die deursigtige brug gaan lyk soos die tiara wat die ontslape koningin op haar troudag gedra het. Haar man, prins Philip, word ook ingesluit, asook ‘n tradisionele groot standbeeld van Elizabeth wat oor die Mall uitkyk.
# En ten slotte: Orkas in die Noordelike Stille Oseaan is waargeneem terwyl hulle mekaar masseer deur stukke kelp tussen hul lywe te vryf. Navorsers het hommeltuie gebruik om hierdie gedrag te verfilm en dink die massering is miskien vir gesondheids- of higiëniese redes. Hulle glo ook dat dit moontlik ‘n manier van sosiale interaksie is terwyl dit ook ‘n voorbeeld kan wees van hoe moordwalvisse gereedskap aanwend. Die orkas is vir 12-dae in die water van die Staat Washington waargeneem en in die tydperk het navorsers 30 gevalle van kelp-massering gesien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….