Goeie Nuus
BULLETIN 24 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die heersende Mej Suid-Afrika, Mia le Roux, sê sy wil mense wat dikwels sukkel met toegang tot onderwys en indiensneming help met waardigheid, onafhanklikheid en ekonomiese deelname. Sedert die bekendstelling van die Mia le Roux Movement x B4i Academy-veldtog verlede jaar, is meer as 160 leerders met gestremdhede landwyd in geakkrediteerde leerlingskappe geplaas. Le Roux sê insluiting is nie liefdadigheid nie – dit maak ekonomiese sin:
# Die Universiteit van Pretoria het sy internasionale reputasie versterk toe hy 63ste in die wêreld geplaas is volgens 2025 se Times Higher Education-ranglys, en wêreldwyd sewende vir Volhoubare Ontwikkeling, Doelwit 17. Die lys meet hoër onderwysinstellings se stappe om die Verenigde Nasies se 17 doelwitte te bereik. Slegs drie universiteite van Afrika het vanjaar die lys gehaal. Die hoof en visekanselier, Francis Petersen, sê dit weerspieël die universiteit se volgehoue fokus op ‘n positiewe invloed op die samelewing deur vernuwende onderrig en navorsing.
# Die Stad Tshwane het ‘n loopbaandag vir leerders van Olievenhoutbosch aangebied as deel van die metro se verbintenis om jongmense te bemagtig met praktiese blootstelling aan werklike werksomgewings binne die regering. Die burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Kholofelo Morodi, sê leerders het eerstehandse kennis opgedoen van die interne werking van munisipale bestuur en dienslewering:
# Die Stad Kaapstad sê sy jeugprogram vir geletterdheid en lewensvaardighede groei bestendig sedert dit drie jaar gelede gestig is. ʼn Span van 40 werksoekers is in diens geneem toe die program bekendgestel is en meer as drie-duisend-500 leerders in skole en biblioteke in verskeie gemeenskappe is ondersteun. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Afvalbestuur, Grant Twigg, sê hierdie program ondersteun werklose jongmense met vaardighede, werkservaring en formele opleiding.
# En ten slotte: Die Wes-Kaapse LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, sê daar word goeie vordering gemaak met die opgradering van 520-miljoen-rand aan Louis Fourie-weg in Mosselbaai. Die provinsie se grootste padbelegging in die Tuinroete-distriksmunisipaliteit is nou 66-persent voltooi en op koers om teen die middel van volgende jaar afgehandel te word. Belangrike mylpale is die opening van nuwe op- en -afritte van die N2 en die Gericke-padskakel, wat verkeers-opeenhoping verminder. Simmers bedank inwoners en besoekers vir hulle geduld:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….