Goeie Nuus
BULLETIN 23 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Vandag is Internasionale Vroue-in-Ingenieurswese-dag wat die prestasies van vroue-ingenieurs en hulle bydraes tot die vorming van die wêreld vier. Die dag benadruk ook die belangrikheid van insluiting en moedig meisies en vroue aan om loopbane in ingenieurswese te volg. Volgens 2023 se Wêreldverslag oor Geslagsgapings verteenwoordig vroue slegs 29,2-perent van die wetenskaps-, tegnologie-, ingenieurswese- en wiskunde-werksmag. Die Vroue-ingenieursvereniging sê sy vier ook maatskappye wat groot vordering maak in die skepping van ‘n meer uiteenlopende en geslagsgelyke nywerheid.
# Rhodes-universiteit het ‘n medeprofessor, Lausanne Olvitt, vereer met die vise-kanselier se senior toekenning vir Uitnemende Senior-onderrig. Dit is vir haar bydraes tot die instelling se Omgewingsonderrig-navorsingsentrum. Die universiteit sê Olvitt se benadering tot onderwys, wat gekenmerk word deur veerkragtigheid en ‘n verbintenis tot betekenisvolle interaksie, benadruk die gehalte-kenmerke van die toekenning wat gevier word. Hy sê haar bydraes inspireer studente en kollegas en versterk die universiteit se verbintenis tot uitmuntendheid in onderrig en leer.
# Die Noordwes-universiteit sê hy is ‘n vernuwende instelling wat wêreldwyd kontak het en verbind is tot uitnemendheid en maatskaplike tersaaklikheid. Quacquarelli Symonds se jongste Wêreld-universiteitsranglys plaas die instelling onder die top-agt in Suid-Afrika en die top-16 in Afrika. Die lys betrek een-duisend-501 universiteite op 105 plekke reg oor die wêreld. NWU se adjunk-visepresident vir Onderrig en Leer, professor Linda du Plessis, sê die plek op die ranglys toon die universiteit se strategiese fokus is in ooreenstemming met wêreldwye neigings.
# Die Universiteit van Kaapstad se sakeskool en die Vervoeronderwys-en-opleidingsowerheid het ʼn jaar lange digitale opleidingskamp vir benadeelde jeug bekendgestel. Vyftien deelnemers sal opgelei word in data-ontleding, webtuiste-ontwikkeling en gebruikerservaring-ontwerp. Die program sluit internasionale ervaring in in Mexikostad en Shenzhen, en vermeng tegniese opleiding met loopbaan-ondersteuning. Die universiteit sê hierdie projek sal jongmense bemagtig in ʼn groeiende digitale ekonomie en hulle indiensneming-geskiktheid verbeter.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad sê biblioteke en ontspanningsgeriewe is hierdie winter gereed om leerders besig en aktief te hou as deel van sy jaarlikse skoolvakansieprogram. Daar is vanjaar ook opwindende nuwe ervarings, saam met geliefde tydverdrywe soos binnenshuise hoekies vir bordspeletjies, geesdriftige skaaktoernooie en kleurvolle kuns- en handvlytstasies. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê kinders sal hierdie vakansie ook fisies en geestelik kan besig bly:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….