Goeie Nuus
BULLETIN 18 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Mej Tiener Suid-Afrika, Pearl Mathebula, is in Peru as Mej Tienermodel Internasionaal gekroon. Sy is die eerste Suid-Afrikaner wat die kompetisie wen. Die Mej Tiener Suid-Afrika-organisasie beskryf die 17-jarige van Limpopo as ‘n sprekende simbool van Suid-Afrikaanse bemagtiging en kulturele trots op die wêreldverhoog. Pearl se oorwinning word gesien as aanmoediging vir jong Suid-Afrikaanse meisies om hulle drome met vertroue en goedhartigheid na te streef.
# Die Universiteit van Johannesburg vier die 2025 National Geographic Wayfinder-toekenning van die Suid-Afrikaner Tebogo Makhubela. Die geoloog en speleoloog is een van slegs 15 wêreldwye ontvangers vanjaar. Die 35-jarige se reis van student tot toonaangewende navorser het baanbrekerswerk by die Wieg van die Mensdom ingesluit. Die toekenning is deur die National Geographic Society in Washington, DC, oorhandig. Makhubela het befondsing ontvang ter ondersteuning van sy fossiel- en grotnavorsing, asook nagraadse studente onder sy toesig.
# Die musiek-ikoon en filantroop Dolly Parton, die akteur en vervaardiger Tom Cruise, die choreograaf en aktrise Debbie Allen, en die ontwerper Wynn Thomas gaan in November ere-Oscars ontvang op die Goewerneurs-toekennings. Parton gaan vereer word met die Jean Hersholt Humanitêre Toekenning terwyl Cruise, Allen en Thomas die Eretoekenning sal ontvang. Die akademie se president, Janet Yang, sê hierdie vier legendes se buitengewone loopbane en toewyding aan die rolprent-gemeenskap laat ‘n blywende indruk.
# Qatar Airways is vir ‘n rekord negende keer as die wêreld se beste lugredery aangewys op die Skytrax World Airline-toekennings, bekend as die Oscars van die lugvaartwêreld. Qatar is ook aangewys as die beste lugredery in die Midde-Ooste, die lugdiens met die wêreld se beste besigheidsklas en die beste besigheidsklas-sitkamer. Die vyfmalige wenner van die wêreld se beste lugredery-toekenning, Singapore Airlines, is tweede met die Hongkongse redery Cathay Pacific derde. Ethiopian Airlines is die sewende keer die beste lugredery in Afrika.
# En ten slotte: Dis vandag Internasionale Piekniekdag en die ideale dag om ʼn piekniekmandjie te pak en saam met familie of vriende in die buitelug te eet. Alhoewel daar geen rekord is oor die oorsprong van die dag nie, het dit vermoedelik teen die einde van die Franse Revolusie en die Victoriaanse tydperk ontstaan. Volgens die Guinness Book of World Records, is die wêreld se grootste piekniek op 20 Junie 2009 in Lissabon, Portugal, gehou. Meer as 22-duisend mense het dit bygewoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….