Goeie Nuus
BULLETIN 13 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Vergelegen Estate White 2023 is as die beste Suid-Afrikaanse witwyn gekroon op die gesogte 2025 Internasionale Wynuitdaging. Die kompetisie, wat wêreldwye aansien geniet, het die wyn van Somerset-Wes in Kaapstad geprys vir sy elegansie, minerale karakter en lewendige geure. Besturende direkteur Wayne Coetzer sê Vergelegen se oorwinning beklemtoon die uitnemendheid van plaaslike wynmakers en vestig Suid-Afrika op die wêreldwynverhoog. Hy sê die toekenning is ‘n huldeblyk aan die span se passie en toewyding vanaf wingerd tot bottel.
# Benoemings is oop vir die Defender-toekennings vir Suid-Afrikaners wat op voetsoolvlak ‘n verskil maak. Kategorieë sluit in natuurlewe, gemeenskap en die verdedigers van die land en die oseane. Die veldtog, wat deur die ikoniese handelsmerk Defender aangebied word, bied prysgeld van meer as twee-miljoen-rand, ‘n voertuig en ondersteuning van kundiges vir ‘n besondere plaaslike organisasie. Ross Holgate van die Kingsley Holgate-stigting, Ivy Wairimu van Tusk en die Springbok-legende Bryan Habana sal by ‘n paneel internasionale deskundiges aansluit om die finaliste te kies. Inskrywings sluit Maandag.
# Kaapstad se slimstes is vereer op die Wes-Kaapse 2025-Innoverings-toekennings wat deur die Kaapse Kamer van Koophandel aangebied is. Veertien vernuwers het toekennings ontvang vir hul bydraes in sake, tegnologie, volhoubaarheid en die burgerlike samelewing. Hoogtepunte sluit in Cubespace se satelliet-tegnologie wat deur NASA gebruik word, Zerocrete se lae koolstof-beton en die Stad Kaapstad se vereenvoudigde sakeprogram. Die geleentheid versterk vernuwing as belangrike faktor in die provinsie se Groei vir Werk-strategie en Suid-Afrika se ekonomiese toekoms.
# Die hoof van die Infrastruktuur-Instandhoudingeenheid aan die Universiteit van Venda, Tshisevhe Nesengani, het die AUDE-somerskool se toekenning vir die beste projek ontvang. ‘n Deel van die prys is ‘n week by die somerskool van die Association of University Directors of Estates in Brittanje. Deelnemers moes ‘n groepprojek ontwikkel en aanbied oor uitdagings of geleenthede in die bestuur van hoër onderwysinstellings. Nesengani se groep het vernuwende maniere ondersoek om studente, akademiese personeel en professionele spanne in te skakel by kapitaalprojekbeplanning.
# En ten slotte: Die Hollywood-aktrise Viola Davis en die komediant Conan O’Brien is onder die ses mense wat in Augustus opgeneem word in die Televisie-akademie se 27ste heldesaal. Dit vereer mense wat oor hul leeftyd of met ʼn enkele prestasie ʼn besondere bydrae gelewer het tot die kunste, wetenskap of televisiebestuur. Die ander vier is die vervaardiger Ryan Murphy, die Emmy-bekroonde akteur Henry Winkler, die legendariese komponis Mike Post en die ontslape regisseur Don Mischer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….