Goeie Nuus
BULLETIN 10 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta het die gewese huishulp Thobeka Ntini-Makununika gelukgewens nadat sy haar doktorsgraad in Filosofie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal verwerf het. Die titel van haar tesis is “Unravelling the dynamics of power in employer-domestic worker relations in contemporary South Africa”. Makaneta sê die 32-jarige Ntini-Makununika se reis is inspirerend omdat sy van 13-jarige ouderdom af deeltyds as huishulp gewerk het terwyl sy haar studies voortgesit het:
# Profmed wil jong dokters ondersteun met ‘n jaar se gratis mediese hulp deur Suid-Afrika se eerste digitale locum-mark, die finDR-platform. Dit is gemik op gekwalifiseerde dokters en tandartse onder 30 wat die afgelope twee jaar gemeenskapsdiens voltooi het en werkloos of pas in diens geneem is. finDR is ‘n platform wat hulle verbind met werksgeleenthede, mentorskap en gesondheidsorgpraktyke. Profmed sê die doel is om hul oorgang na die mediese veld te vergemaklik en te verseker dat hulle ondersteun word terwyl hulle met hulle belangrike loopbane begin.
# Disney se Lilo and Stitch met Maia Kealoha en Hanna Waddingham in die hoofrolle is vir die derde agtereenvolgende naweek bo aan die lokettrefferlys. In die tweede plek is Lionsgate se Ballerina, ‘n rolprent van John Wick met Ana de Armas in die hoofrol as ‘n danser wat ‘n kontrakmoordenaar word. Mission: Impossible – The Final Reckoning, die laaste rolprent in die uiters gewilde Tom Cruise-spioenasieriller-reeks, is derde. Sony se Karate Kid: Legends en New Line se Final Destination: Bloodlines, is onderskeidelik vierde en vyfde.
# Kendrick Lamar was die groot wenner op die BET-toekennings in Los Angeles. Hy het toekennings ontvang vir beste album van die jaar vir GNX, beste manlike hip-hop-kunstenaar, video van die jaar vir Not Like Us, en beste samewerking saam met SZA vir Luther. Lamar het ook die prys gewen vir video-regisseur van die jaar saam met sy kreatiewe vennoot, Dave Free. SZA en Chris Brown is onderskeidelik aangewys as beste vroue- en mans- R&B/pop-kunstenaars. Mariah Carey en Jamie Foxx is aangewys as top-ikone.
# En ten slotte: Rugby-ondersteuners kry nou ʼn geleentheid om deel te neem aan die Fantasie-rugbykampioenskap wat deur Nieu-Seeland Rugby aangevoor word in samewerking met Suid-Afrika, Australië en Argentinië. Dis die eerste amptelike fantasie-kompetisie vir die Suidelike Halfrond se grootste internasionale kompetisie, die Rugbykampioenskap. Die Springbokke is in die eerste ronde op 16 Augustus gasheer vir die Wallabies terwyl Nieu-Seeland en die Pumas sake uitspook. Ondersteuners sal ʼn kans kry om hul 15 beste spelers te kies en kan dan tydens die toernooi meeding om die reg om te spog.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….