Goeie Nuus
BULLETIN 9 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Twaalf jong Suid-Afrikaners het Forbes se Afrika 30-onder-30-lys vir vanjaar gehaal. Hulle word vereer vir hul vernuwing, veerkragtigheid en leierskap in verskeie sektore, insluitend gesondheidsorg, onderwys, sport en musiek. Van hulle is die uitvoerende hoof van Quantumed, Avian Bell, die Springbok-ster Sacha Feinberg-Mngomezulu, en die voorstander vir menstruele gesondheid, Candice Chirwa. Hulle lewensverhale en prestasies word geprys vir die weerspieëling van ‘n geslag wat verbind is tot invloed en doelgerigtheid.
# Nicole Scherzinger van Sunset Boulevard en Darren Criss van Maybe Happy Ending is op die 78ste Tony-toekennings in New York aangewys as beste aktrise en akteur in ‘n musiekblyspel. Sarah Snook het haar eerste Tony opgeraap as beste aktrise in ʼn toneelstuk vir The Portrait of Dorian Gray, terwyl Cole Escola aangewys is as beste akteur in Oh, Mary!. Maybe Happy Ending is vereer as beste musiekblyspel, en Purpose vir beste toneelstuk. ʼn Emosionele Scherzinger sê sy voel of sy uiteindelik ingesluit is:
# ‘n Twee-en-twintigjarige ballerina, Mbalenhle Mkhatshwa, sê sy wil deur haar ballet-ateljee ‘n wêreld van moontlikhede vir jong kinders van die township skep. Sy het die ateljee in Tembisa, Gauteng, Mballet, ingerig wat Vrydae, Saterdae en Sondae klasse aanbied. Mkhatshwa het aan Newzroom Afrika gesê sy wil hê die ateljee moet bewys dat swart kinders deurbrake kan maak en sukses behaal:
# Die Rhodes-universiteit het ʼn gesogte nuwe toekenning bekendgestel wat toppresteerders onder leerders in die Makana-munisipaliteit wil erkenning gee en ondersteun. Die beurs word aangebied ingevolge ʼn gesamentlike ooreenkoms tussen die universiteit en onafhanklike skole in Makhanda wat Diocesan School for Girls, St Andrew’s College en Kingswood College insluit. Dit dek jaarliks alle klasgeld en koshuisfooie asook ʼn toelaag vir boeke en lewenskoste. Dit sal jaarliks hernu word, afhangend van akademiese prestasie en aktiewe deelname aan gemeenskapsprojekte by die universiteit.
# En ten slotte, vlugbal: ‘n Gegradueerde van die Universiteit van Pretoria, dokter Danilo von Ludwiger, mik daarna om te kwalifiseer vir vanjaar se strandvlugbal-wêreldkampioenskap in Australië in November. Hy het grade in Geneeskunde en Chirurgie verwerf terwyl hy Suid-Afrika in die sport verteenwoordig het. Von Ludwiger hoop ook om aan 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles deel te neem. Hy sê hy oorweeg dit om in sportgeneeskunde of ortopedie te spesialiseer om sy voorliefdes te kombineer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….