Goeie Nuus
BULLETIN 4 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
#’n Derde-jaar student in BCom Internasionale Sake aan die Universiteit Stellenbosch, Abigail Larsen, is die mede-ontwikkelaar van ‘n baanbreker digitale platform ontwerp om ‘n nuwe generasie vrywilligers, leiers en maatskaplike entrepreneurs byeen te bring. Thallo is ‘n sosiale media platform wat maatskaplik-bewuste vrywilligers van organisasies en liefdadigheidsorganisasies bymekaar bring om die gaping tussen individue en organisasies te oorbrug. Die een-en-twintig-jarige Larsen beskryf Thallo as ‘n mengsel tussen Instagram en LinkedIn. Sy sê die toepassing sal ook ‘n plek bied vir die bemarking van produkte deur organisasies sonder winsbejag en ‘n spelstelsel vir die opbou van maatskaplike kapitaal.
# Suid-Afrika se danssensasie Chloé Windell sê sy is besig met afronding aan haar program. Sy verteenwoordig die land volgende maand by die 2025 Dans-wêreldbeker in Burgos, Spanje. Sy het vroeër vanjaar sterk vertoon in die Suid-Afrikaanse kwalifiserende ronde wat in Centurion gehou is. Hier het sy die 1ste, 2de en 4de plek in die jazz-, liriese en eietydse afdelings behaal. Windell sê sy beplan om volgende jaar aan die Universiteit Stellenbosch te verder te studeer, maar is beskikbaar vir ander geleenthede wat kan opduik.
# Die rektor en visekanselier van die Noordwes Universiteit, professor Bismark Tyobeka, het amptelik die eerste sooi van die Desmond Tutu Mediese Skool op die kampus in Potchefstroom gespit. Die hipermoderne fakulteit, wat geskeduleer is om in 2027 te open, sal die vlagskip van akademie by die universiteit wees. Dit sal Suid-Afrika se 11de mediese fakulteit wees. Tyobeka sê dit gaan nie net om ‘n gebou nie, maar oor erflating, invloed en toegang tot gesondheidsorg vir toekomstige geslagte:
# Die Verenigde Koninkryk se grootste fees, die Glastonbury-fees, het sy kunstenaars vir vanjaar bekendgemaak. Die Britse pop-rock-groep The 1975, Neil Young en Olivia Rodrigo is die hoofkunstenaars op die Pyramid-verhoog. Rod Stewart en Faces se kitaarspeler, Ronnie Wood, is op die Sondag-legendes-program. Ander bekendes sluit in die Brat-ster, Charli XCX, wat die hoofkunstenaar op die Other Stage-verhoog is, terwyl die opkomende kletsrymer, Doechii, mense op die West Holts-verhoog sal vermaak. Die fees op Worthy Farm in Somerset duur van 25 tot 29 Junie.
# Die Suid-Afrikaanse komediante, Jason en Nicholas Goliath, keer terug met ‘n splinternuwe weergawe van The Happiness Economy-komedietoer. Die vertoning sluit steeds komiese selfbesinning in, maar die 2025-weergawe bevat ook nuwe stories, en onthullings uit die twee se persoonlike lewens en landwye optredes. Jason sê die vertoning is interaktief, persoonlik en heeltemal anders as wat hulle voorheen gedoen het. Die tweetal is van 18 Junie tot 6 Julie in die Pieter Toerien-teater by Montecasino in Johannesburg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….