Goeie Nuus
BULLETIN 3 Junie
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Tshwane-universiteit vir Tegnologie se Breytenbach-teater gaan later die maand weergalm met ‘n opvoering van Echoes of Ubuntu- Rhythm of African Unity. Dit is ‘n lewenskragtige multidissiplinêre produksie wat tradisionele danse, musiek en drama vermeng om die ryk kulturele uitdrukking van amaZulu, amaXhosa, amaNdebele, Maswati, Vatsonga, Basotho, Batswana, Bapedi en Vhavenda te verken. Die universiteit sê die produksie is ‘n soomlose mengsel van eeu-oue tradisies met eietydse teaterdrama. Dit word van die 18de tot die 21ste van die maand opgevoer.
# Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Phillip Matlhoko van Kimberley gaan sy kuns in China uitstal as deel van die vierde China-Afrika Ekonomiese en Handelsuitstalling wat Donderdag in die Hunan-provinsie begin. Verteenwoordigers van 44 Afrikalande, ses internasionale organisasies en 23 Chinese streke op provinsiale vlak sal na verwagting die uitstalling bywoon. Span Suid-Afrika sluit nog drie lede in. Matlhoko het aan die SABC gesê die uitstalling gaan oor kulturele uitruiling:
# Sierskaats: Jasmine Coetzee van Suid-Afrika mik na die Olimpiese Spele nadat sy by die 2025 SAFSA Nasionale Kampioenskap as die Junior Dameskampioen gekroon is. Die 19-jarige Coetzee, wat op die ouderdom van vyf begin skaats het, oefen in Kazakstan onder top-afrigters, onder andere die Winter Olimpiese atleet, Dino Quattrocecere van Suid-Afrika. Coetzee moet haar universiteitstudies en skaatsloopbaan versigtig balanseer, terwyl sy haar droom van Olimpiese glorie in 2030 najaag.
# ASP Isotopes het ‘n strategiese vennootskap met Isotopia Molecular Imaging aangegaan om Gadolinium-160 te verskaf, noodsaaklik vir die vervaardiging van ‘n kankerbestrydende isotoop terbium-161. ASP sal sy kwantumtegnologie gebruik om aan die groeiende mediese aanvraag te voldoen. Die ooreenkoms teiken prostaatkanker, neuro-endokriene gewasse en ander kwaadaardighede, en verwyder belangrike voorraad-bottelnekke. Die uitvoerende hoof van ASP, Paul Mann, sê hierdie vennootskap versnel die pad na kliniese aanvaarding van Tb-161, wat kankerbehandelingsparadigmas kan herskryf. ASP beplan ‘n notering op die Johannesburgse Effektebeurs later vanjaar om sy beleggersbasis te verbreed.
# En ten slotte, Adolescence van Netflix het drie van die vier kategorieë waarvoor dit by die tweede jaarlikse Gotham-televisietoekennings in New York benoem is, gewen. Die reeks van vier episodes oor ‘n tienerseun wat van moord beskuldig word, het die deurbraakprys vir ʼn beperkte reeks, hoofrol in ʼn beperkte reeks vir Stephen Graham, en ʼn gedeelde prys vir beste byspeler in ʼn beperkte reeks vir Owen Cooper gewen. Fantasmas‘ se Julio Torres is die beste hoofspeler in ʼn komediereeks. Die beste deurbraak-komediereeks is The Studio, terwyl The Pitt die beste dramareeks is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….