Goeie Nuus
BULLETIN 2 Junie
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Padwedlope: Vier personeellede van die Universiteit van Pretoria is gereed om die Comrades-marathon, aan te pak om geld in te samel vir studente wat finansieel sukkel. Mense van meer as 80 lande sal aan Sondag se wedloop deelneem wat vanjaar afdraande is en oor ongeveer 89 kilometer van Pietermaritzburg na Durban strek. Die opbrengs wat Bianca Frost, Josiah Mavundla, Mfundo Nyitana en André Ganswindt sal insamel, sal na die vise-kanselier en rektor se Beursfonds gaan. Die universiteit sê dié atlete herinner almal daaraan dat enige doelwit wat die moeite werd is, tyd en uithouvermoë verg.
# Die pas gekroonde 72ste Mej. Wêreld, Opal Suchata Chuangsri van Thailand, sê sy sal tydens haar heerskappy voortgaan met haar Skoonheid met ‘n Doel-projek, For HER. Die projek is ʼn borskankerveldtog wat op opvoeding, vroeë opsporing en bemagtiging fokus. Sy is die eerste Thaise vrou wat die Mej. Wêreld-titel wen. Chuangsri sê sy is vasbeslote om vrouegesondheid ʼn wêreldwye gesprek te maak:
# Die jaarlikse Kaapstad Spele het 292 jong deelnemers gehad wat hul vaardighede by Erica Park in Belhar ten toon gestel het. Deelnemers van regoor die metro het aan kompetisies deelgeneem, insluitend vyf-aan-‘n-kant sokker, snel-vyf-netbal, trefbal, drie-aan-‘n-kant basketbal, domino’s en tafeltennis. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê dié jaarlikse geleentheid vier die krag van ontspanning in die bevordering van fiksheid en maatskaplike samehorigheid:
# ʼn Professor in Analitiese Chemie aan die Universiteit van die Wes-Kaap, Priscilla Baker, is die 2025-wenner van die L’Oréal-UNESCO-wetenskapsprys vir vroue in Afrika en Arabiese state. Die universiteit sê Baker verskuif grense met haar navorsing in draagbare elektro-chemiese sensors terwyl sy groter insluiting in STEM-velde bevorder. Baker sê deur haar reis aktief te deel, stel sy ʼn voorbeeld vir vrouestudente om loopbane volgens hulle vermoë en nie volgens stereotipies te kies nie:
# Disney se supertreffer, Lilo and Stitch, is die tweede agtereenvolgende naweek nommer een by kaartjiekantore. Dis die tweede Hollywood-vrystelling naas A Minecraft Movie wat die prestasie in 2025 behaal. Paramount en Skydance se Mission: Impossible – The Final Reckoning met Tom Cruise in die hoofrol is tweede, en Karate Kid: Legends het op nommer drie geopen. Final Destination: Bloodlines is vierde en nog ʼn nuweling, A24 se gruwelfilm, Bring Her Back, is vyfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….