Goeie Nuus
BULLETIN 20 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Motorbedryfspersoneelvereniging het 120-duisend-rand aan die Prostaatkankerstigting geskenk om bewusmaking en vroeë opsporing van prostaatkanker te bevorder. MISA, wat meer as 71-duisend lede verteenwoordig, het sy toewyding uitgespreek om gereelde kankertoetsing aan te moedig. Die woordvoerder van die vereniging, Sonja Carstens, sê vroeë opsporing is van kritiese belang, aangesien die meeste gevalle te laat gediagnoseer word:
# Suid-Afrikaners het alle verwagtinge oortref in die wêreldwye Mei-50-duisend-uitdaging, toe hul meer as 300-duisend-rand vir veelvuldige sklerose ingesamel het. Dit is meer as die oorspronklike doelwit van 100-duisend-rand. Meer as een-duisend-600 mense het in ‘n gees van eenheid deelgeneem Die paralimpiese atleet Kat Swanepoel het die voortou geneem met ‘n 50-kilometer-swem. Dertig-persent van die fondse sal vir plaaslike veelvuldige sklerose-dienste aangewend word, en 70-persent vir wêreldwye navorsing.
# Die Universiteit van Fort Hare het onlangs ‘n gemeenskapsprojek van stapel gestuur wat die ontwikkeling van jong kinders by die Alice Primary School deur Kinderkinetics-lesse ondersteun. Kinderkinetics is gemik op kinders van geboorte tot 13 en fokus op die bevordering van optimale groot en neuromotoriese ontwikkeling. ʼn Geregistreerde Kinderkinetikus, Xonnè Muller, sê aktiwiteite is ontwerp om ontwikkelingsmylpale te bereik, koördinasie te verbeter en basiese bewegingsvaardighede te bou terwyl hulle fiksheid pret maak.
# Die stroomdiens Netflix het ingegryp en die kinderprogram Sesame Street gered na Warner Brothers Discovery besluit het om nie sy vyfjaar-ooreenkoms vir die program te hernu nie. Netflix het ‘n ooreenkoms met Sesame Workshop aangegaan ingevolge waarvan die stroomdiens die 56ste reeks later vanjaar gaan uitsaai. Die nuwe seisoen spog met ‘n vars formaat en aanhangers se gunsteling segmente soos Elmo’s World en Cookie Monster’s Foodie Truck maak weer hulle verskyning. Sesame Workshop sê hy is opgewonde om kinders oral steeds te help om slimmer en sterker te word en vriendeliker te wees.
# En ten slotte: Die tweemalige Oscar-wenner, Denzel Washington, is Maandag verras met ‘n ere-Palme d’Or by die Cannes-rolprentfees in Frankryk ontvang uit erkenning vir sy uitstaande loopbaan. Die 70-jarige het die fees bygewoon vir Spike Lee se nuutste rolprent Highest 2 Lowest, waarin hy saam met A$AP Rocky, Jeffrey Wright en Ilfenesh Hadera speel. Ander wenners van die ere-Palme d’Or sedert dit die eerste keer in 2002 aangebied is, sluit in Jodie Foster, Harrison Ford, Clint Eastwood, en verlede jaar, Meryl Streep en George Lucas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….