Goeie Nuus
BULLETIN 30 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Vier Unisa-studente is op pad na Chicago vir die finale ronde van die Spencer-RIMS-risikobestuursuitdaging. Millicent Mathoho, Kgothatso Phetla, Letta Tsholofelo Matlakala en Nombuso Fortunate Sibeko is onder die top-agt universiteitspanne van reg oor die wêreld. Hulle gaan volgende week by die toonaangewende RISKWORLD-konferensie hul navorsing oor klimaatsgevare voorlê. Unisa se hoof en visekanselier, Puleng LenkaBula, sê die vier studente se deelname weerspieël die krag van die instelling en sy akademiese gemeenskap.
# MultiChoice South Africa en die Universiteit van Pretoria het hul MultiChoice-leerstoel in Masjienleer vir nog vyf jaar verleng. Die inisiatief wat in 2018 bekendgestel is, wil wêreldwye vaardigheidstekorte in kunsmatige intelligensie en masjienleer aanspreek. Studente werk aan werklike projekte soos inhoudontleding en diensleweringvooruitskattings. Talle gegradueerdes het poste by MultiChoice bekom wat die vennootskap se sukses om Suid-Afrika se talent in hierdie spesialis-veld te ontwikkel, beklemtoon.
# Die 22ste Suidoosterfees word vandag tot Sondag by die Kunstekaap-teater in Kaapstad aangebied. Vanjaar se tema, Kuns is Alles, beklemtoon die noodsaaklike rol van die kunste in die inspirering van hoop, werksgeleenthede, en die versterking van gemeenskappe. Die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, sê deur vennootskappe met organisasies soos die Nasionale Jeugmusiekstigting speel die Suidoosterfees ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van die volgende geslag kunstenaars:
# Vyf Suid-Afrikaanse rolprentvervaardigers gaan hulle onafhanklike kortfilms in Junie by die 29ste jaarlikse Amerikaanse Swart Rolprentfees in Miami tentoonstel. Ayanda Halimana, Kopedi Aphane, Donna Sibande, Chris Djuma, en Nondumiso Buthelezi-Masache is as die wenners van die eerste Suid-Afrikaanse Kortrolprentfees aangewys, ‘n nuwe program wat by vanjaar se geleentheid bekendgestel word. Die fees se stigter, Jeff Friday, sê hulle is stomgeslaan deur die gehalte, oorspronklikheid en emosionele krag van die inskrywings wat hulle vanjaar van Suid-Afrika ontvang het.
# En laastens: Ellen Pompeo het haar status as een van die voorste televisie-akteurs van die 21ste eeu verstewig deur ‘n ster op die Hollywood Walk of Fame te ontvang. Die bekroonde aktrise en vervaardiger is veral bekend vir haar rol as Meredith Grey in die treffer-ABC-reeks Grey’s Anatomy. Die 55-jarige dien ook as ‘n uitvoerende vervaardiger vir die program, wat tans in sy 21ste seisoen beleef. Pompeo sê dié erkenning is spesiaal:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….