Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 April
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Kenner van Kunsmatige Intelligensie wat aan die Universiteit van Cambridge studeer het, professor Tshilidzi Marwala, gaan vandag die hoogste akademiese eer van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie ontvang. Hy gaan ‘n eredoktorsgraad in Ingenieurswese ontvang uit erkenning vir sy uitsonderlike akademiese leierskap en groot vordering in die Vierde Nywerheidsrevolusie. Marwala het 27 boeke oor kunsmatige intelligensie en verwante onderwerpe uitgegee en meer as 45 toekennings ontvang, insluitend die Orde van Mapungubwe.
# Jelly Roll het al drie toekennings gewen waarvoor hy benoem is op die Countrymusiek-televisietoekennings wat in Austin, Texas, gehou is. Hy het Video van die Jaar, Manlike Video van die Jaar en Vertoning van die Jaar gewen vir sy treffer Need a Favour. Die Vroulike Video van die Jaar-toekenning het aan Lainey Wilson gegaan vir Watermelon Moonshine, terwyl Dan en Shay die Duo/Groep-video van die Jaar gewen het met Save Me The Trouble. Alle wenners word geheel en al deur hulle ondersteuners gekies.
# Die Stad Kaapstad sê hy belê dié boekjaar 118,5-miljoen-rand in plaaslike ekonomiese ontwikkelingsinfrastruktuur en opgraderings, en die verskaffing van sake-opleiding. Beplande projekte sluit in die opknapping van bestaande informele handelspersele in Mitchells Plain, Athlone, Happy Valley en Seaforth in Simonstad. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die projekte vorm deel van die stad se omvattende strategie om die informele handelslandskap te verbeter:
# ‘n Inwoner van Kaapstad, Ryan Stramrood, het geskiedenis gemaak toe hy die eerste persoon geword het wat die vyf veeleisendste oopwaterswemgeleenthede – die Groot Vyf – voltooi het. Dit sluit in die Kaappunt-swem van agt kilometer en die Valsbaai-oorgang van 33 kilometer. Stramrood, wat gereeld aan adrenalien-swemgeleenthede deelneem en as spreker optree, het dié prestasie behaal toe hy die Robbeneiland-oorgang van 18 kilometer tussen Bloubergstrand en die noordelike punt van die eiland voltooi het.
# En ten slotte: Transplant Education for Living Legacies reël dié maand ‘n bewustheid- en tatoeërdag in Pretoria om orgaanskenking aan te moedig. Mense wat dit bywoon kan deelneem aan ‘n kompetisie om ‘n tatoeërmerk te wen, wat die toenemende neiging weerspieël om lewens te red. Sowat drie-duisend mense het reeds tatoeërmerke wat sê hulle wil orgaanskenkers wees, wat sterk steun toon vir die doel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….