Goeie Nuus
BULLETIN 7 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Departement van Toerisme het minister Patricia de Lille gelukgewens nadat sy aangewys is as Toerismeminister van die Jaar – in Bestuur – Infrastruktuurontwikkeling. Sy is vereer deur die Vereniging van Stille Oseaangebied-reisskrywers in Berlyn. Die woordvoerder van die departement, Zara Nicholson, sê toerisme is een van Suid-Afrika se mees dinamiese bedrywe, dra 8,8-persent by tot die land se bruto binnelandse produk en het net in 2024 1,68-miljoen werksgeleenthede ondersteun:
# Die Galileo-opelug-fliek nooi Wes-Kaapse fliekgangers uit om die naweek ‘n onvergeetlike ervaring in die buitelug by te woon. Die branderry-kortfilms Changing Tempo, Where We Thrive, en The Source word vanaand in die Kirstenbosch-botaniese tuine in Nuweland vertoon. Môre volg die superheldfliek uit 2005 deur die regisseur Christopher Nolan, Batman Begins, op die Nederburg-wynlandgoed in die Paarl. Kaartjies kos vanaf 145-rand per persoon.
# Die Wes-Kaapse regering en die Kaapstadse fietstoer span saam om plakkers vir kantspieëls bekend te stel met die boodskap: “Can you see a cyclist?” Die plakkers wil bestuurders en passasiers herinner om eers in hul spieëltjies te kyk voordat hulle ʼn voertuigdeur oopmaak, en seker te maak daar is nie fietsryers of ander padgebruikers wat wil verbykom nie. Die LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, sê fietsryers is die afgelope jare dood of beseer nadat hulle teen voertuigdeure gebots het:
# Truie wat gedra is deur twee van die reuse in die basketbalwêreld, Michael Jordan en Kobe Bryant, in die eerste NBA-wedstryde van hulle loopbane sal later die maand in New York opgeveil word. Jordan se nuwelingtrui vir sy eerste wedstryd vir die Chicago Bulls en Bryant se eerste wedstrydtrui vir die Los Angeles Lakers sal moontlik gesamentlik 363-miljoen-rand haal. Sotheby’s sê Jordan en Bryant se truie is blywende simbole van die ambisie, vaardigheid en wilskrag wat hulle legendariese loopbane gekenmerk het.
# En ten slotte: Koning Charles het saam met Apple Music gewerk om sy eie speellys vry te stel, wat ‘n eksklusiewe blik gee op sy verhouding met musiek. Die King’s Music Room sluit kunstenaars in van alle vastelande en genres, onder andere Bob Marley, Kylie Minogue en Grace Jones, saam met kontemporêre talent soos Davido en Raye. Die koning se volle keuse van snitte sal Maandag vir Statebondsdag uitgegee word. Charles sê die liedjies het gehelp om die klankbaan van sy lewe te vorm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….