Goeie Nuus
BULLETIN 6 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die wenners van die Suid-Afrikaanse Studente-ontwerpkompetisie is bekend gemaak. Die kompetisie, wat die Tshwane Universiteit vir Tegnology organiseer, bring hulde aan die Italiaanse argitek Matteo Cibic. Studente se opdrag was om Cibic se werk te bestudeer en ‘n uitstalruimte te ontwerp wat Suid-Afrikaanse vakmanskap vier. Twee studente van die Universiteit van die Vrystaat, Gustav Pretorius en Jeanré Erasmus, het die kontantprys van 20-duisend-rand gewen vir hulle werk getiteld Moving through the Making, geïnspireer deur The Dancer, een van die bekende werke van die Suid-Afrikaanse keramiekkunstenaar, Andile Dyalvane.
# Personeel en studente van die Nelson Mandela-universiteit se George-kampus het die I Choose 2 B Active-veldtog ondersteun wat fisiese welsyn in die plaaslike gemeenskap bevorder. Vrywilligers van die instelling het ‘n belangrike rol gespeel om verskeie fisiese bedrywighede deur die dag aan te bied, met leerders van verskillende skole wat deelgeneem het. Die sportbestuurder van die kampus, Siphesihle Jobo, sê die projek wil ook ‘n omgewing skep wat studente se groei en sukses op alle gebiede aanhelp.
# Vyftig graad 9-leerders van die Sefutswelo High School in Uitkyk, Noordwes, het nuwe fietse ontvang. Die skenking van 425-duisend-rand is die gevolg van ‘n vennootskap tussen die welsynsorganisasie Qhubeka en die Star-stigting. Elke leerder het ʼn fiets, onderdele, fietsry-bykomstighede asook opleiding in padveiligheid ontvang. Die stigting sê die fietse sal hopelik leerders se reistyd verkort, wat tot beter akademiese prestasie en groter deelname aan skoolbedrywighede sal lei.
# Maartmaand is een van die besigste tye vir byeenkomste in Kaapstad, met ‘n gesamentlike bywoning van sowat 270-duisend mense. Die metro se Geleentheidspermitkantoor monitor dié maand 109 byeenkomste. Dit sluit in die Kaapstadse Fietstoer, die Kirstenbosch Somer-sononderkonserte, die Kaapstadse Karnaval en die Kaapstadse Surf Pro. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê Kapenaars sal dié maand behoorlik vermaak word:
# En ten slotte: Maurice And Maralyn: An Extraordinary True Story Of Shipwreck, Survival And Love is op die Nero-boektoekennings aangewys as boek van die jaar. Die boek wat deur die joernalis, Sophie Elmhirst, geskryf is, vertel die storie van ʼn paartjie wat in die 1970’s in die middel van die Stille Oseaan skipbreuk gely het. Hulle het 118 dae op ʼn reddingsvlot deurgebring nadat ʼn walvis hul boot getref het. Elmhirst sê sy het van die Baileys gehoor op ʼn webtuiste wat die verhale van skipbreukelinge vertel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….