Goeie nuus
BULLETIN 5 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Stad Kaapstad het ‘n bemarkingsveldtog van stapel gestuur om Indiese toeriste te lok ten einde ‘n groter aandeel van dié land se snelgroeiende uitwaartse toerisme- en beleggingsmark te bekom. Travelport beraam dat Indië se uitwaartse reisigersmark teen 2028 sowat 39-miljoen sal bereik – ‘n reuse-toename van die 28,2-miljoen internasionale Indiese reisigers in 2023. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê om die beste stad in die wêreld-toekenning te verwerf, plaas Kaapstad in ‘n perfekte posisie om die mark te ontgin:
# Twee leeuwyfies wat in die Addo-olifantpark naby Gqeberha losgelaat is, is nou in die wildkykgebied te sien. Die twee-en-‘n-half-jaar oue susters wat in Desember van die !Khamab Kalahari-park gebring is, verleen sterk genetiese verskeidenheid aan die park se leeubevolking. SANParke sê die twee sal navorsers help met die nasporing van habitatgebruik, interaksie met roofdiere en prooispesies. Die loslating is deel van ‘n bewaringspoging om leeubevolkings te bestuur en ekologiese bestendigheid in die park te behou.
# St John Eye Care bied tot Junie landwyd gratis oogtoetse by sy sentrums aan om kwesbare gemeenskappe te ondersteun. Die sentrums bied bekostigbare oogsorg- en noodhulp-opleiding. Hierdie projek vorm deel van die organisasie se voortdurende gemeenskaps-uitreikpogings, insluitend ‘n vennootskap met Woza Moya om Durbanse ambagslui met sigprobleme te help. Die organisasie het beklemtoon indien mense se sig herstel word, kan dit hulle bemagtig om voort te gaan met hul werk en ‘n verskil te maak. Wêreld-optometriedag is op 23 Maart.
# Die Oscar-wenner Adrien Brody, Imelda Staunton en Robert Icke is onder die benoemdes vir Britse teater se gesogste eer, die Olivier[O-LI-VE-Y]-toekennings. Brody is benoem as beste akteur vir sy rol in The Fear Of 13. Staunton is benoem as beste aktrise vir haar vertoning in die musiekblyspel, Hello, Dolly. Dit is haar 14de Olivier-benoeming. Icke is benoem as beste regisseur vir Oedipus. Fiddler On The Roof met sy 13 benoemings het die meeste ontvang. Die seremonie vind op 6 April in die Royal Albert Hall plaas.
# En ten slotte, basketbal: Los Angeles Lakers se voorspeler, LeBron James, het die eerste speler in die geskiedenis van die NBA geword om 50-duisend loopbaanpunte aan te teken in die gereelde seisoen en uitspeelwedstryde. Die 40-jarige het dié prestasie behaal in sy span se oorwinning oor New Orleans Pelicans voor sy tuisskare in die Crypto.com-stadion in Kalifornië. James, wat ook die NBA se grootste puntemaker ooit is, sê dis baie spesiaal om die mylpaal te bereik:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….