Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van Johannesburg gaan tydens sy gradeplegtigheid agt mense met eredoktorsgrade vereer om sy 20ste herdenking te vier. Hulle sluit in oudpresident Kgalema Motlanthe, die hoog-aangeskrewe Afrikaanse digter, skrywer, joernalis en akademikus Antjie Krog, en die wêreldbekende wetenskaplike in organiese elektronika, professor Huang Wei. Die universiteit sê die eredoktorsgrade gee erkenning aan mense wie se werk ‘n groot bydrae gelewer het tot kennis, die openbare lewe en maatskaplike vordering.
# Professor Helen Schneider van die Universiteit van die Wes-Kaap is op die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se 11de toekenningsgeleentheid vereer. Sy het die Navorsingsontwikkeling- en Hervormingstoekenning ontvang wat erkenning gee aan buitengewone prestasie en bydrae tot Suid-Afrikaanse gesondheidsnavorsing. Die UWK sê Schneider se leierskap en kennis het gesondheidsbeleid nasionaal en wêreldwyd gevorm en gehelp om doeltreffende en billike gesondheidstelsels te bou.
# Die Johannesburgse stadsbiblioteek met sy 1,5-miljoen boeke open volgens plan gedeeltelik op 21 Maart nadat dit byna vyf jaar lank gesluit was. Die biblioteek is in Mei 2021 gesluit nadat veral sy brandstelsels nie aan veiligheidsregulasies voldoen het nie. Daar was ook elektriese foute en waterlekplekke. Die grondvloer sal na verwagting eerste heropen, en die res in Junie of Julie. Die metro sê die biblioteek se opknapping sal sowat 69-miljoen-rand kos, waarvan 21-miljoen-rand reeds bestee is.
# Ses-en-twintig vrouestudente van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het beurse van meer as ‘n miljoen-rand ontvang van die Vroue in Sport-trust. Die beurse is ontwerp om vroue-atlete te ondersteun wat akademies en in hul onderskeie sportkodes uitblink. TUT se sportdirekteur, Hajira Mashego, sê hierdie jong vroue het op en van die sportveld uitstaande toewyding getoon en die ondersteuning sal hulle help om daarmee voort te gaan. Sy sê die beurse kom op ʼn tyd wanneer geslagsgelykheid in sport stukrag opbou.
# En ten slotte: Die benoemde kunstenaars Cynthia Erivo en Ariana Grande, wat in die treffer Wicked speel, gaan Sondag optree tydens die 97ste Oscar-toekennings. Die rolprent het tien benoemings ontvang, insluitend vir die beste rolprent en oorspronklike klankbaan. Queen Latifah is deel van ‘n huldeblyk aan die legendariese Quincy Jones wat in November verlede jaar oorlede is. Doja Cat, Lisa van Blackpink en die Grammy-benoemde kunstenaar Raye gaan ook optree. Die Oscars se uitvoerende vervaardiger, Raj Kapoor, sê die optredes vier die rolprentvervaardigersgemeenskap en van sy legendes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….