Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Mej Heelal van 2019 en kampvegter vir geslagsgelykheid, Zozibini Tunzi, is volgende maand een van die gassprekers op Forbes se tiende Vroueberaad in Pretoria. Die tema is Tot die tiende mag: Die reël-brekers in Afrika se volgende hoofstuk. Vanjaar se beraad fokus op dié wat dit gewaag het om die status quo uit te daag en hulleself en die wêreld rondom hulle te hervorm. Tunzi sê sy is opgewonde om die verhoog te deel met baanbrekers wat Afrika hervorm.
# CapeNature het toergidse gevier op ‘n geleentheid in die Walkerbaai-natuurreservaat in die Wes-Kaap. Vanjaar se viering het aan toergidse geleentheid gebied om hul insig en ervaring met ander te deel en met leiers in die bedryf te gesels. CapeNature se uitvoerende hoof, Ashley Naidoo, sê toergidse oorbrug die gaping tussen die omgewing en besoekers wat by hulle besoek aflê. Hy sê die toergidse is die storievertellers wat lewe gee aan die geskiedenis, kultuur en bewaring.
# Die popster Charli XCX is as liedjieskrywer van die jaar aangewys en sal Saterdag dié ereprys ontvang op die Brit Awards in die O2-Arena in Londen. Die toekenning is voorheen deur die Britse kunstenaars Ed Sheeran, Kid Harpoon en Raye ingepalm. Die 32-jarige kom ook in aanmerking vir vyf toekennings, insluitend album van die jaar, vir haar sewende album Brat en die Britse kunstenaar van die jaar. Charli het vroeër die maand drie Grammy-toekennings ontvang, insluitend vir die beste dans-album.
# Die Wêreld-fotografie-organisasie het die kortlys van finaliste vir die jaarlikse Sony Wêreld-fotografietoekennings bekend gemaak. Daar is tien kategorieë met drie fotograwe wat as finaliste vir elke kategorie aangewys word. Die finaliste sluit in die Tokyo Toilet Project van Ulana Switucha, Divided Youth of Belfast deur Toby Binder, en Hummingbirds from Peru deur Efrain Sueldo. Die voorsitter van die paneel van beoordelaars, Monica Allende, sê vanjaar se finaliste het groot oorspronklikheid en duidelike visie aan die dag gelê. Die wenners word in April op ‘n spesiale seremonie in Londen aangekondig.
# En ten slotte: Toby’s Estate Coffee Roasters in Sydney, Australië, is aangewys as die beste koffiewinkel in die wêreld. Twee Suid-Afrikaanse eetplekke is ook op die lys: Espresso Lab Microroasters in Kaapstad is elfde en The Whippet in Gauteng 89ste. Die Wêreld se 100 Beste Koffiewinkels beoordeel kafees wêreldwyd volgens ʼn verskeidenheid faktore. Dit sluit in die gehalte van koffie en kos, volhoubare praktyke en klantediens. Onyx Coffee Lab van Arkansas in Amerika is tweede en Gota Coffee Experts van Wenen in Oostenryk is derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….