Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 April
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die jongste radiogehoor-metingsdata toon dat die radiobedryf in Suid-Afrika floreer, met 75-persent van mense van 15 jaar en ouer wat elke week gemiddeld vyf-uur-en-12 minute per dag inskakel. Die data toon ondanks digitale platforms wat groei, is daar sterk saambestaan met radio, met 68-persent van sosiale media-gebruikers en 76-persent van musiekstromers wat terselfdertyd ook weeklikse radioluisteraars is. Die Uitsaainavorsingsraad van Suid-Afrika sê radio se veerkragtigheid oor tale en platforms heen is ‘n sleutelfaktor vir dié medium se groei.
Unisa sê intussen hy is trots dat een van sy gewese nuuslesers benoem is vir Mail and Guardian se Top 200 Jong Suid-Afrikaners in die afdeling vir Rolprent en Media. Die toekennings gee erkenning aan jong leiers wat ‘n positiewe invloed op die samelewing het. Tshego Magolego, wat in 2016 by Unisa Radio aangesluit het, sê om die lys te haal is ‘n bevestiging en herversekering van sy werk. Bekendes wat voorheen dié lys gehaal het, sluit in Trevor Noah en Julius Malema.
# Kaapstad se Brand- en Reddingsdiens het 45-duisend-rand aan die Rooikruis-kinderhospitaal geskenk. Die geld gaan na die hospitaal se trust vir brandwonde. Brandwonde is die derde grootste oorsaak van sterftes onder kinders. Die gespesialiseerde saal vir brandslagoffers behandel jaarliks sowat 900 kinders. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê brandbestryders plaas nie net hul lewe op die spel nie – hul passie strek verder as hul taak.
# Die Universiteit van Fort Hare se Onderwysfakulteit was ‘n medewerker aan ‘n boek om voor- en nagraadse studente, onderwysers en dosente met die nodige vaardighede toe te rus vir ‘n suksesvolle loopbaan in opvoeding. Die universiteit sê die boek, Foundations of Education: From Contemporary Social Perspectives, bied ‘n omvattende verkenning van die beginsels wat die onderrig- en leer-proses aanvuur. Een van die redakteurs was professsor Charl Wolhuter van die Noordwes Universiteit. Professor Mzuyanda Percival Mavuso van Fort Hare sê opvoeders het ‘n onmiskenbare taak om toekomstige geslagte te vorm.
# En ten slotte: Die rockgroep Kiss het sy musiek-katalogus, naam en handelsmerk aan ‘n Sweedse musiekbeleggingsfirma, Pophouse Entertainment, verkoop in ‘n transaksie ter waarde van meer as 5,6-miljard-rand. Die groep, wat in Rock and Roll se heldesaal opgeneem is, het oor die afgelope 50 jaar sowat 100 miljoen plate verkoop. Kiss se medestigter, Gene Simmons, sê hulle was nog altyd vernuwend wat popkultuur betref, en die vennootskap sal verseker dat hulle in die jare wat kom sal kan voortgaan. Sangers soos Bob Dylan en Bruce Springsteen het ook hul katalogusse verkoop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….