Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Waterfall City in Gauteng het die prys gewen vir die beste internasionale meesterplan op die Internasionale Eiendomstoekennings in Londen. Dit is die eerste keer dat die gebied die kategorie wen, wat erkenning gee aan grootskaalse stedelike ontwikkelings. Waterfall City het ook die titel ingepalm van beste meesterplan Afrika 2024-2025. Die uitvoerende hoof, Willie Vos, loof die prestasie as ‘n bewys van vernuwing en uitnemendheid, en voeg by die toekennings lig Afrika se groterwordende rol uit in globale stedelike ontwikkeling.
# Die groep kunstenaars wat in April op vanjaar se Kaapstadse Internasionale Jazz-fees te sien sal wees, tree op onder die tema, Legacy Meets Tomorrow. Die bekroonde platejoggie en vervaardiger, Black Coffee, deel die verhoog met die pianis, Nduduzo Makhathini, vir ‘n spesiale optrede saam met ʼn volle orkes en spesiale sangers. Ander kunstenaars sluit in die jazz-pianis en komponis, Kyle Shepherd, die baskitaarspeler en komponis, Benjamin Jeptha, en sangeres Thandiswa Mazwai. Die organiseerders sê hulle sal volgende maand die volledige lys deelnemers bekendmaak.
# Die Suid-Afrikaanse reeks Shamwari Untamed is gekeur vir die Blue Bird-rolprentfees. Die reeks van 13 programme gee ‘n kykie agter die skerms van die bestuur van die Shamwari-privaat wildreservaat in die Oos-Kaap. Dit word hoofsaaklik vertel uit die oogpunt van die wildveearts Johan Joubert en die ekoloog John O’Brien. Dit het ook toekennings gekry op die onlangse Indo Dubai- en Asian Independent- internasionale rolprentfeeste. Shamwari se uitvoerende hoof, Joe Cloete, sê die reeks is die akkuraatste, insiggewendste en mees outentieke uitbeelding van die bewaringspan se ongelooflike werk.
# Die internasionale superster Mariah Carey is in Augustus die hoofvertoning op die Heritage Live-fees op die Royal Sandringham-landgoed in Norfolk in die Verenigde Koninkryk. Die voorvertoning by die lokaal met sitplek vir 20-duisend mense is Nile Rodgers en Chic asook Eternal. Die fees se woordvoerder, Giles Cooper, sê Carey se lys van enkelsnit-treffers verseker ‘n ongelooflike geleentheid. Dit sal die tweede Britse vertoning vir die sangeres in Augustus wees, want sy is ook bevestig as die hoofvertoning vir die Brighton Pride-fees.
# En ten slotte: Die Universiteit Stellenbosch werk saam met ʼn nie-regeringsorganisasie, Yeyethu Designer Studio, om ongebruikte materiaal te herwin en dan te gebruik om potloodsakkies vir studente te maak. Charlene Wicomb van die universiteit sê baie materiaal word weggegooi, soos vlae wat gebruik word om die instelling te bemark. Bulelwa Tito, wat die Yeyethu Designer Studio van die Kuyasa Horizon Empowerment-organisasie in Kayamandi bedryf, sê die projek is lewensveranderend. Wicomb sê die potloodsakkie-projek het tot ander idees vir herwinning gelei:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….