Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Finale jaarstudent in BCom Ekonomie aan die Universiteit van Fort Hare, Katleho Mphutlane, sê sy onlangse besoek aan Amerika het sy toewyding aan jeugbemagtiging versterk. Die 27-jarige was deel van ‘n akademiese program van die Universiteit van Washington. Hy het ook onlangs die gesogte Alumni Engagement Innovation Fund-toelae van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake ingepalm, saam met Paseka Gaola vir hulle organisasie sonder winsbejag, Incremental Education. Mphutlane sê hy word aangevuur deur die geloof dat diens die mag het om lewens te verander.
# Die Kaapstadse Metropolisie se honde-eenheid het tien nuwe vierbeen-rekrute verwelkom, almal Belgiese Malinois. Die aantal honde staan nou op 20. Die nuwe groep ondergaan basiese opleiding. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê vier sal kwalifiseer as kopermetaal- en dwelmopsporingshonde, vier sal algemene patrolliewerk doen en help om oortreders te vang, en die ander twee sal help soek na vermiste persone:
# Die SOS Africa-kinderliefdadigheidsentrum in Gordonsbaai, Kaapstad, help jong kinders om gesonde gewoontes aan te leer deur daagliks voedsame maaltye te verskaf. Die organisasie wil kinders uit informele nedersettings help deur ook bystand aan te bied met huiswerk, mentorskap en ‘n verskeidenheid buitemuurse bedrywighede. Daar is nou ‘n professionele sjef op die personeel aangestel om gebalanseerde, gesonde maaltye vir die kinders voor te berei. Die nuwe sjef glo aan die voorbereiding van kos wat die liggaam voed en fisiese gesondheid en positiewe gewoontes vir die toekoms bevorder.
# Demi Moore, Shōgun, Timothée Chalamet, and Conclave, was van die wenners op die 31ste jaarlikse Screen Actors Guild Awards in Los Angeles. Shōgun het vier toekennings gekry, insluitend beste hoofakteur en -aktrise in ‘n dramareeks vir Hiroyuki Sanada en Anna Sawai. Conclave, ‘n riller oor die verkiesing van ‘n nuwe pous, het die beste rolverdeling gewen. Chalamet vir A Complete Unknown en Moore vir haar rol in The Substance het die toekennings gekry vir die hoofakteur en -aktrise. Jane Fonda is vereer met ‘n lewensprestasietoekenning.
# En ten slotte: Amerika se Posdiens vereer die ontslape aktrise en komediant, Betty White, met ‘n nuwe Forever-herdenkingeël. Sy het tydens haar lang loopbaan van meer as 60 jaar agt Emmys, drie SAG-toekennings, ‘n Grammy en ‘n ster op Hollywood se Walk of Fame gekry. Die Posdiens sê die seël het ‘n digitaal-geskepte uitbeelding van White in ‘n botstuk met blou kolle teen ‘n pers agtergrond met vrolike kolletjies wat pas by haar sprankelende persoonlikheid. White is in 2021 op 99 oorlede. Die seël sal volgende maand beskikbaar wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….