Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse musieksensasie Tyla maak steeds opslae reg oor die wêreld, en dié keer met haar verskyning op die voorblad van British Vogue se uitgawe van Maart. Sy is die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat op die voorblad pryk. Dit beeld die 23-jarige uit in ‘n styfpassende pienk bandjielose bostuk en swart romp teen ‘n helderblou agtergrond. Tyla, wat ‘n Grammy gewen het vir haar enkelsnit-treffer Water en ‘n ooreenkoms met Nike gesluit het, sê sy het die ervaring terdeë geniet:
# Die 12de Kaapstadse Kunsmark begin môre in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum. Die geleentheid oor drie dae plaas die kollig op 120 galerye van oral in die wêreld en stel die werk van meer as 300 kunstenaars ten toon. Vyf ontluikende kunstenaars wat deel is van die Opkomende Kunstenaarsprogram van die metro se Kuns- en Kultuurtak, gaan ook hulle werk uitstal. Die program ondersteun behoewende kunstenaars in die vroeë stadium van hulle loopbane deur die verskaffing van opleiding, mentorskap, netwerkgeleenthede en uitstalplatforms.
# Die St Joseph-instelling vir intermediêre pediatriese sorg vier 90 jaar se lewensveranderende sorg vir kinders met chroniese siektes en gestremdhede. Die instelling, wat in 1935 deur die Pallottine-susters van Duitsland gestig is, bied gratis mediese en terapeutiese oorgangsdienste. Om die mylpaal te vier, is ‘n uitdaging bekendgestel om meer fondse in te samel wat maaltye en mediese voorrade aan behoeftige kinders sal voorsien. St Joseph se sakeontwikkelingsbestuurder, Lesley Liddle, sê hulle werk sou onmoontlik wees sonder die ongelooflike ondersteuning van skenkers, vennote en die breër gemeenskap.
# Die aktrise en musikant, Cynthia Erivo, bied in Junie die 78ste Tony-toekennings aan by die Radio City Music Hall in New York. Erivo, wat die hoofrol speel in een van 2024 se gewildste flieks, Wicked, het in 2016 ‘n Tony gewen vir haar rol in die Broadway-weergawe van The Colour Purple. Sy is tans vir ʼn Oscar benoem vir haar werk as Elphaba in Wicked. Erivo sê sy sien uit om die teatergemeenskap te lei deur ʼn aand waar die jaar se wonderlike vertonings gevier word.
# En ten slotte: Egiptoloë het die eerste graftombe van ‘n farao ontdek sedert Toetankamen s’n meer as ‘n eeu gelede. Koning Toetmose die Tweede se graf was die laaste onontdekte koninklike graf van die 18de Egiptiese dinastie. Dit is geleë in die westelike Valleie van die Theban-dodeakker naby Luxor. Toetmose was ‘n voorouer van Toetankamen, wie se heerskappy van ongeveer 1493 tot 1479 voor Christus geduur het. Hy was die man van koningin Hatshepsoet, wat as een van die beste farao’s beskou word en een van die min vroulike heersers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….