Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Vryheidsfront Plus-raadslid van Ekurhuleni, Denise Janse van Rensburg, is een van die finaliste vir Mevrou Statebond Suid-Afrika 2025 en verteenwoordig Gauteng. Die kompetisie word erken vir sy filantropiese benadering om brûe tussen gemeenskappe te bou deur betekenisvolle en daadwerklike programme. Janse van Rensburg sê sy beliggaam die kompetisie se etiek van leierskap, empatie en kultuur-uitruiling:
# Die Universiteit van Pretoria se studenteraad het A Re Ageng Bokamoso bekendgestel om vyf-miljoen-rand vir behoeftige studente in te samel. Die doel is om voor Vrydag se sperdatum te help met die eerste betalings vir registrasie en studente met skuld by te staan. Visekanselier Francis Petersen het beloof om dieselfde bedrag wat ingesamel word, te skenk. Die studenteraad se president, Vhutshilo Muambadzi, vra alumni, korporatiewe vennote en die universiteitsgemeenskap om studente te help om hul studies te voltooi.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het een-duisend-500 pare sportskoene aan drie skole in Kaapstad oorhandig. Die Our Shoes-liefdadigheidsorganisasie maak jaarliks 50-duisend paar skoene in Ierland bymekaar en skenk dit aan minderbevoorregte kinders in Suid-Afrika. Gwarube sê dis deel van die departement se pogings om seker te maak geen kind loop deelname aan sport mis omdat hulle nie die regte skoene het nie:
# Celebrity MasterChef South Africa se wenner, Seth Shezi, het 52-duisend-rand aan Ladles of Love geskenk. Die organisasie sonder winsoogmerk in Kaapstad verskaf voedsame, gesonde kos aan kwesbare kinders en arm gemeenskappe. Ladles of Love sal die geld gebruik om ‘n hele jaar lank twee maaltye per dag te skenk aan 175 kinders by twee kleuterskole in Delft en Fisantekraal. Shezi sê sy prestasie in MasterChef bied hom geleentheid om ʼn humanitêre bydrae te lewer. Hy sê dis betekenisvol om te kan teruggee.
# En ten slotte: Die bekroonde akteur, Matt Damon, vertolk die rol van Odusseus in Christopher Nolan se komende sterbelaaide fliek, The Odyssey, wat in Julie volgende jaar vrygestel word. Dit volg die Griekse kampioen Odusseus op sy onstuimige reis huis toe ná die Trojaanse oorlog. Damon se medesterre sluit in Charlize Theron, Tom Holland, Zendaya, Robert Pattinson, Lupita Nyong’o en Anne Hathaway. Nolan het in Maart verlede jaar die Oscar ontvang as beste regisseur vir Oppenheimer, wat ook die beste fliek was.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….