Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Ipsos se jongste liefdeslewe-tevredenheidstudie toon Suid-Afrikaners is van die gelukkigste verliefdes en beklee die elfde plek wêreldwyd. Die opname in 30 lande toon 80-persent voel geliefd, en 87-persent van die paartjies wat deelgeneem het, is in gelukkige verhoudings. Suid-Afrikaners ervaar ook meer romantiese bevrediging as in baie Europese lande. Robyn Williams van Ipsos sê die bevindings beklemtoon ‘n sterk kultuur van liefde en verbintenis, wat beteken Suid-Afrika is ‘n romantiese spilpunt hierdie Valentynsdag.
# Die Stad Kaapstad sal na 31 Desember vanjaar nie meer gedrukte rekeninge deur die Suid-Afrikaanse Posdiens stuur nie. Meer as 430-duisend rekeninge word alreeds per e-pos gestuur, met die stadsraad wat rekeninghouers aanmoedig om oor te skakel deur hulle rekeningnommer en e-posadres per e-pos of SMS aan te stuur. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Siseko Mbandezi, dui die voordele aan soos verminderde posrisiko, maklike rekeningopsporing, en omgewingsvolhoubaarheid. He vra rekeninghouers sonder toegang tot e-pos om die stadsraad se inbelsentrum vir hulp te kontak.
# Die tienjarige Bulumko Ndumela van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap is gekies om in April mee te ding op die World Cadet and Youth Rapid and Blitz-skaakkampioenskap in Griekeland. Sy gaan egter eers volgende week deelneem aan die afdeling vir onder-tien meisies van die Suid-Afrikaanse Junior Geslote Kampioenskap in die Wes-Kaap. Die Makukhanye Primary School waar Bulumko skoolgaan, vra steun van die publiek in die vorm van skenkings en borgskappe, wat sal help met haar verblyf, vervoer, etes en registrasie.
# Die Helderberg-teaterakademie bied môre ‘n uitdagende nuwe produksie van Fiddler on the Roof in die Playhouse in Somerset-Wes aan. Die produksie deur die musikale teater-paar Darryl Spijkers en Jon-Pual Ruschenbaum ontgin die temas van tradisie, familie en liefde. Die rolverdeling sluit in die ervare kunstenaars Griffin Poole, Andrew Goldie, Kelly Holmes, Nicola Wheeler en William le Roux. Die produksie duur tot die 25ste van die maand.
# En ten slotte Die Oscar-bekroonde Britse aktrise, Tilda Swinton, het die Berlynse filmfees se Goue Beer-toekenning vir haar lewenslange bydrae ontvang. Sy het byna vier dekades lank ‘n noue verbintenis met die fees en het hoofrolle vertolk in 26 flieks wat die fees se lys gehaal het. Vanjaar se fees het gister afgeskop met die wêreld-première van The Light. Dis die verhaal van ʼn wanfunksionele Duitse gesin en ʼn Siriese vlugteling. Swinton het in haar toespraak kritiek gelewer op politieke ekstremisme, die verval van die omgewing en die wêreldwye toename in outoritêre regerings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….