Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die vierde jaarlikse Franschhoekse Kamermusiekfees begin môre in die Wes-Kaapse dorp se NG Kerk en duur tot Sondag. Musici van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes gaan tien konserte oor vier dae aanbied, met die musiek-repertoire van Mozart se Gran Partita tot Beethoven se Razumovsky-kwartet. Vanjaar se gaskunstenaar is die bekende violis Miclen LaiPang wat ook die stigter en artistieke direkteur van die Miesbach-kamermusiekfees in Duitsland is.
# Die Universiteit van Fort Hare se vise-kanselier, professor Sakhela Buhlungu, is vereer met ‘n dinamiese muurskildery vir sy aansienlike bydrae tot die Oos-Londense en Buffalo City roei-gemeenskap. Die muurskildery wat deur die befaamde Suid-Afrikaanse argitek en straatkunstenaar, Nathan Sanan, geskep is, is by die gebou van die Oos-Londense Roeivereniging op die oewer van die Buffelsrivier aangebring. Die president van die Buffalo-roeiklub, Kate Godfrey, sê die muurskildery beeld Buhlungu se vreugde uit, waar hy trots glimlag as ‘n weerspieëling van sy diepe verbintenis met die roei-gemeenskap.
# ‘n Oudstudent van die Universiteit van Kaapstad, Mbulela Ncube, het die McCall MacBain-streektoekenning ontvang. Dit is Kanada se grootste navorsingsgebaseerde beurs vir meestersgraad- en beroepstudies. Die beurs gee erkenning aan studente wat buitengewone karakter, gemeenskapsbetrokkenheid en leierskapspotensiaal toon asook ‘n ondernemerskapsgees, akademiese vernuf en intellektuele nuuskierigheid. Ncube werk op die oomblik vir die Wêreldnatuurfonds in Suid-Afrika en is ‘n voorstander van die bewaring van natuurlewe in stedelike gebiede.
# Die Collen Mashawana-stigting het ‘n moderne rekenaarklaskamer gebou by die Tshishonga Primary School in Thohoyandou, Limpopo, en rekenaars geskenk. Die skool met 438 leerders en beperkte hulpbronne sal ook voordeel trek uit ʼn vennootskap van drie jaar wat opknapping, administrasie en daaglikse onderhoud deur die stigting se personeel insluit. Meer as 200 paar skoene is ook geskenk. Die stigting sê die projek se doel is om onderwys te bevorder en leertoestande in die gemeenskap te verbeter.
# En ten slotte: Die Grammybekroonde Sabrina Carpenter is die eerste internasionale kunstenaar wat ‘n Global Success-toekenning op volgende maand se Brit-toekennings gaan ontvang. Sy is ook benoem vir die Internasionale Kunstenaar van die Jaar en Internasionale Liedjie van die Jaar. Carpenter was verlede jaar vir 21 weke aaneen bo-aan die amptelike Britse musiektrefferlys en die eerste kunstenaar om dit in 71 jaar reg te kry. Haar treffers Taste, Please Please Please en Espresso, was gelyktydig in die eerste drie plekke, en sy was die eerste vroulike kunstenaar om dit reg te kry.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….