Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Gauteng se LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal gelukgewens met sy suksesvolle MitraClip-inplantingsprosedure. Dis die eerste gesondheidsgerief in die provinsie wat lekharte met hierdie vernuwende tegniek behandel. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die deurbraak laat die openbare sektor toe om nuwe maniere te vind om pasiëntesorg te verbeter:
# Navorsers aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe het die jongste tegnologie in veevoermasjinerie op sy proefplaas in werking gestel. Dit is moontlik gemaak deur ‘n belegging deur die Nieu-Seelandse regering. ‘n Dosent, professor Wanda Markotter, sê die diere is nou toegerus met radiosein-identifiseringskyfies, wat ‘n boodskap na die masjiene stuur om gespesialiseerde voer beskikbaar te stel. Sy sê die navorsing is ‘n belangrike deurbraak in die stryd teen aardverwarming te midde van die integrale rol wat vee in maatskaplik-ekonomiese stelsels in Suid-Afrika speel.
# Die Stad Tshwane is tevrede dat die vennootskap met die Kleinsake-ontwikkeling en -finansieringsagentskap tot die skepping van 400 werksgeleenthede gelei het. Sedert die begin van die program is sewe sake-ondersteuningssentrums in die streek gestig wat meer as een-duisend-300 sake-ondernemings bedien. Die burgemeesterkomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling, Sarah Mabotsa, sê die program het al 120-miljoen-rand tot die omset van klein sake-ondernemings bygevoeg.
# Universal en DreamWorks Animation se Dog Man was die naweek boaan die Noord-Amerikaanse trefferlys by kaartjiekantore. Die fliek oor ’n polisiebeampte wat tydens ’n operasie een word met sy getroue hond nadat hy aan diens beseer is, het Pete Davidson, Poppy Liu en Ricky Gervais in die hoofrolle. Spyglass Media Group se riller-romantiese komedie, Heart Eyes, was tweede. Love Hurts met die Oscar-wenners Ke Huy Quan en Ariana DeBose in die hoofrolle was derde in sy openingsnaweek. Mufasa: The Lion King en Companion voltooi die topvyf.
# En ten slotte: ‘n Uitstalling van Don Mattera se werke is tans in Sophiatown, Johannesburg, te sien. Die uitstalling ondersoek die werk en lewe van die oorlede digter en skrywer en plaas ook klem op Sophiatown se nalatenskap van veerkragtigheid en kulturele betekenis. Die Don Mattera-stigting se voorsitter, Jenny Jeftha, het aan Newsroom Afrika gesê Mattera se bydraes het grootliks die siening van Sophiatown gevorm en sy blywende nalatenskap bewaar:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….