Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# President Cyril Ramaphosa gaan aan die Presidensiële Gholf-uitdaagtoernooi op die Atlantic Beach-gholflandgoed in Kaapstad deelneem. Die toernooi wat na die staatsrede sal plaasvind, word georganiseer deur die ministerie van die Staatsdiens en Administrasie, en fondse word vir liefdadigheid ingesamel. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die inkomste uit die geleentheid, wat deur die Cyril Ramaphosa-stigting bestuur word, sal onderwys- en vaardigheidsontwikkelingsprogramme landwyd ondersteun:
# Die Suid-Afrikaanse Leërorkes in die Wes-Kaap het wyle oudpresident Nelson Mandela se nalatenskap gevier met ‘n konsert by die Jubilee- en die Jabulani-tehuis in Kaapstad. Dit was deel van die wêreldwye 67 Minute-program. Die orkes het tydlose stukke soos Frank Sinatra in Concert, Misty, Rock Fantasy en Carpenters in Concert uitgevoer. Die orkes sê die vertoning was nie net ʼn musikale huldeblyk aan Mandela se gees van diens nie, maar ook ʼn viering van gemeenskap en erfenis.
# Die Stad Ekurhuleni het met die Kuns-en Kultuur-trust saamgewerk om Suid-Afrika se eerste Slimteater- en Gemengde Realiteitslaboratoriumprogram bekend te stel. Die vernuwende projek is ontwerp om uitvoerende kunstenaars, skeppers, sosiale media-spesialiste en kuns-entrepreneurs in die streek te help met toegang tot moderne tegnologie en belangrike vaardighede vir die Vierde Nywerheidsrevolusie in virtuele en meelewende optredes. Inwoners wat wil deel wees van die slimteater, en 18 jaar of ouer is, kan aansoek doen by
.# Die South by Southwest-rolprent-en televisiefees in Amerika gaan 111 rolprente en 17 reekse vertoon, insluitend kortfilms en musiekvideos. Die fees open met Another Simple Favour, ‘n opvolg van die 2018 komedie-riller, A Simple Favour, met Blake Lively en Anne Kendrick in die hoofrolle. Ander treffers wat vertoon sal word sluit in Ben Affleck se The Accountant 2 en Holland met Nicole Kidman in die hoofrol. Die fees word van 7 tot 15 Maart in Austin, Texas aangebied.
# En ten slotte: Die oorspronklike lede van Black Sabbath sal die eerste keer in 20 jaar saam optree. Ozzy Osbourne, Tony Iommi, Geezer Butler en Bill Ward sal op 5 Julie vir oulaas saamkom vir ʼn fondsinsamelingskonsert in Birmingham, Engeland. Alle wins wat hulle maak, sal gelykop verdeel word tussen Cure Parkinson’s, die Birmingham-kinderhospitaal en Acorn-kinderhospitium. Die groep, wat in 1968 gestig is, word beskou as die peetvader van heavy metal-musiek en het wêreldwyd meer as 75-miljoen albums verkoop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….