Goeie Nuus
BULLETIN 3 Februarie
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse fluitspeler, komponis en vervaardiger, Wouter Kellerman, het ‘n Grammy-toekenning gewen in die kategorie vir beste New Age, Ambient, of Chant-album. Dit is vir sy album, Triveni, ʼn besinnings- en geestelike opname saam met die Japannese tjellis, Eru Matsumoto, en die Indiese stemkunstenaar, Chandrika Tandon. Kellerman is die enigste Suid-Afrikaanse solo-kunstenaar wat vyf Grammy-benoemings ontvang het. Keller, wat nou met drie Grammys spog, het in sy aanvaardingstoespraak gesê dis wonderlik om te wen:
# Die Universiteit Stellenbosch se navorsingsgroep oor die genomika van seldsame siektes gaan verskeie werke van die kunstenaar Cumine van Tonder opveil om geld in te samel vir pasiënte. Die groep wil geld insamel vir behandeling, toetse en versorging. Die inkomste uit Van Tonder se A1-afdrukke op doek oor die kruispad van anatomie en natuur sal genetiese toetsing en diagnostiese dienste regstreeks raak. Die veiling eindig op 15 Februarie en val saam met die Maand vir Seldsame Siektes. ‘n Konsert word ook dieselfde dag in die Endler-saal aangebied.
# Die Universiteit van Limpopo het nog ‘n mylpaal van verandering bereik met die bekendstelling van ‘n toonaangewende laboratorium vir sy Wetenskap-, Tegnologie-, Ingenieurswese en Wiskunde-sentrum. Dit is toegerus met die nuutste geriewe wat op hommeltuigtegnologie, die herstel van mobiele toestelle en ander wetenskap-verwante bedrywighede gegrond is/ Die universiteit sê die sentrum sal praktiese opleiding en entrepreneursroetes bied om die volgende geslag innoveerders en leiers te ondersteun. Hy sê die laboratorium is ‘n groot stap om Suid-Afrika se digitale kloof te oorbrug.
# ‘n Veelsydige dansateljee en organisasie sonder winsbejag in Mamelodi, Pretoria, die Tha Kuad-ateljee, fokus op die ontwikkeling van dans, die vestiging van ‘n dans-akademie vir die gemeenskap en die opleiding van beroepsdansers. Dit bied gratis klasse aan in genres van kontemporêr tot jazz en amapiano. Die medestigter, danser en choreograaf, Ntsatsaile Mpheto, sê die ateljee gaan daaroor om talent te deel, van mekaar te leer en veral om kinders van Mamelodi van die strate, dwelms en misdaad weg te hou.
# En ten slotte: ‘n Sesjarige Yorkshire-terriër, Mia, het heeltemal herstel nadat sy ‘n trageale stent ontvang het by die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort Veeartseny-hospitaal. Sy het aan ernstige trageale versaking gely, wat plaasvind wanneer die tragea platval en lugvloei belemmer. Dit veroorsaak simptome soos hoes, die vermindering van suurstof in die bloed en floutes. Mia se lugpyp is onder algemene narkose gemeet met X-strale. Die toepaslike stentgrootte is van Amerika bestel omdat dit nie by Onderstepoort aangehou word nie weens die koste en omdat dit min gebruik word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….