Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die gewese uitvoerende hoof van die Nasionale Kunstefees, Tony Lankester, is die nuwe uitvoerende hoof van die Edinburgh-fees in Skotland se Fringe Society. Hy het 12 jaar lank die fees in Makhanda in die Oos-Kaap gereël. Lankester het in dié tyd die fees, en daarmee ook sy internasionale voetspoor, uitgebrei deur verskeie produksies na randfeeste in Australië, Brittanje, Amerika en lande regoor Europa te neem. Die voorsitter van die vereniging, Benny Higgins, sê Lankester se leierskap is belangrik om voor hul 80ste bestaansjaar volgende jaar te verseker dat die fees volhoubaar is.
# Vernuwende navorsingsprojekte deur twee jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes het erkenning gekry op vanjaar se Taiwanse Internasionale Wetenskapskou. Meer as 600 jong wetenskaplikes uit 27 lande het aan die skou deelgeneem. Die 15-jarige Aradhya Kaushik van Bryanston High School in Johannesburg, en die 14-jarige Joanna Swanepoel van C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein het pryse in hul kategorieë gewen. Aradhya se projek bied ‘n doeltreffende oplossing waarop diensverskaffers werkbare insig in hul klante se sienings kan kry. Joanna se projek wys hoe Suid-Afrika wêreldprobleme wetenskaplik oplos.
# Die liefdadigheidsorganisasie, Chefs with Compassion, het ʼn mylpaal bereik deur meer as 7,5-miljoen maaltye in arm gemeenskappe reg oor Suid-Afrika te bedien. Die veldtog het ook byna twee-miljoen ton kos gebruik wat andersins vermors sou word. CWC wat in Mei 2020 gestig is, word bedryf deur ʼn netwerk sjefs, kokke en gemeenskap-spyseniers wat weekliks duisende mense kosgee. Die organisasie se woordvoerder, Mark Wilson, sê voedselsekerheid is die laagste in meer as ʼn dekade en die behoefte aan voedingsprogramme is groter as ooit.
# ‘n Jong vul wat drie weke gelede gebore is, pas mooi in by ‘n trop Kaapse bergsebras in die De Hoop-natuurreservaat in die Overberg-streek van die Wes-Kaap. Die opwindende geboorte val saam met Internasionale Sebradag, wat vandag gevier word. Die dag wys op die behoefte om sebra-spesies te beskerm. Cape Nature se bewaringspogings het daartoe gelei dat die spesie, wat eens bedreigd was, steeds groei. ‘n Onlangse lugopname het meer as ‘n honderd bergsebras getoon in De Hoop en die Overberg-toetsterrein. Besoekers word intussen gemaan om natuurlewe met respek te besigtig.
# En ten slotte: Die Sentrale Biblioteek van die Stad Kaapstad vier 70 jaar se lekkerlees-ervaring. Die biblioteek is in Desember 1945 gestig en in Januarie 1955 amptelik vir die publiek geopen. Dit bevat meer as 200-duisend items, waarvan ‘n groot hoeveelheid aan Afrika-literatuur en -materiaal gewy word in Afrikaans, isiXhosa en Engels. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheidsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê die biblioteek is ‘n kernsentrum en toevlugsoord vir leesgieriges:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….