Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Mission 300-veldtog, wat teen 2030 300-miljoen Afrikane met elektrisiteit wil koppel, het meer as 249 miljard-rand se nuwe beloftes bekom. Die program onder leiding van die Wêreldbank en die Ontwikkelingsbank van Afrika het nou ook steun gekry van instellings soos die Islamitiese Ontwikkelingsbank en die Asiatiese Infrastruktuur-beleggingsbank. Die projek is ondanks ekonomiese uitdagings ‘n noodsaaklike stap om die 600-miljoen mense sonder krag in Afrika te verminder, asook ontwikkeling en toegang tot skoon kook-energie te verbeter.
# Die eerste violis en kreatiewe leier van die Universiteit van die Vrystaat se Odeion-strykkwartet, Samantha Durrant, sê sy wil die musiekgroep die middelpunt maak van strykinstrument-opleiding en -uitvoerings in Suid-Afrika. Die groep, die enigste residentkwartet aan ‘n Suid-Afrikaanse universiteit, verbind talent met globale uitnemendheid, en voer werke uit van meesters soos Haydn en Beethoven terwyl dit ook moderne komposisies vier. Durrant sê die geleentheid om saam met lewende komponiste te werk is ʼn besondere voorreg wat insig bied in hul inspirasies en musikale bedoelings.
# ‘n Organisasie sonder winsbejag, Samaritan’s Feet South Africa, het 100-duisend skoene ingesamel en aan minderbevoorregte kinders en kwesbare mense uitgedeel. Die liefdadigheidsorganisasie se hooffokus is om skoene te skenk aan arm kinders en bejaardes. Die uitvoerende hoof, Hermien Louw, sê hulle doel is om vanjaar nog 50-duisend paar skoene uit te deel en landwyd uit te brei. Hulle wil ook saam met ander organisasies werk om meer mense te bereik.
# Die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport het Minke Janse van Rensburg as Sportvrou van die Jaar met ʼn Gestremdheid aangewys. Die 20-jarige sportvrou het die afgelope sewe jaar talle wêreldrekords in Downsindroom-swem verbeter. Ná haar eerste Europese Downsindroom-kampioenskap in 2023 in Italië het sy ses medaljes huis toe gebring: een goud, vier silwer en een brons. Haar pa, Hennie Janse van Rensburg, het aan die SABC gesê Minke is vir baie mense ʼn groot inspirasie:
# En ten slotte: Netflix grawe diep vir die terugkeer van Little House on the Prairie. Die geliefde program is losweg gegrond op die topverkoper-boekereeks deur Laura Ingalls Wilder waarvan meer as 73-miljoen kopieë verkoop is. Dit is eers omskep in ‘n gewilde reeks vir NBC waar dit tussen 1974 en ’83 mense nege seisoene lank vermaak het. Jinny Howe van Netflix sê hulle is opgewonde om die boek se tydlose temas van hoop en optimisme te deel met ‘n nuwe vertelling van die ikoniese verhaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….