Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse naelloper en Olimpiese silwermedalje-wenner, Bayanda Walaza, het by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie ingeskryf vir ‘n kwalifikasie in Toevoerkettingbestuur. Hy het verlede jaar geskiedenis gemaak as die jongste Suid-Afrikaner wat ‘n Olimpiese medalje ingepalm het terwyl hy nog op skool was, en ‘n silwermedalje saam met die vier-maal-100-meter-aflosspan in Parys gewen het. Walaza is opgewonde om deel te wees van ‘n omgewing wat waarde plaas op akademiese en sport-uitnemendheid. TUT se vise-kansellier, Tinyiko Maluleke, sê hulle is gereed om Walaza te help om sy akademiese drome te bewaarheid.
# ‘n Verpleegstudent aan die Universiteit van Noordwes, Bonolo Mogari, moedig studente aan om deel te neem aan die Kho Kho-speletjie. Die doel met die speletjie, wat in Indië ontstaan het, is om ‘n mededinger te jaag en te vang en punte in te samel. Twee spanne van nege spelers is betrokke. Mogari en haar spanmaats het onlangs ‘n bronsmedalje vir Suid-Afrika ingepalm in die Kho Kho Wêreldbekertoernooi in Indië. Sy sê die speletjie vereis spanwerk en strategie.
# Die Growing Gauteng Together 2030-span het deelgeneem aan die Koffie met ‘n Polisielid-uitstalling in Midrand. Die groep het van sy vernuwende misdaadbekampings-instrumente ten toon gestel. Dit sluit ‘n skerpskuttervoertuig in wat toegerus is met tegnologie om gesteelde voertuie op te spoor, asook ‘n netwerk met kameras wat nommerplate identifiseer. Ten spyte van hulle sukses, befonds die span die afgelope jaar hul pogings uit hul eie sak. Die uitstalling bied hulle ‘n geleentheid om befondsing en borgskappe te kry, asook vennootskappe om hul projekte uit te brei.
# Japan het sy goue medalje suksesvol verdedig op die Soetgebak-Wêreldbekertoernooi in Lyon, Frankryk. Agtien nasionale spanne moes drie poedings ontwerp wat hulle land verteenwoordig – ‘n bevrore poeding, ‘n restaurantpoeding en ‘n vertoon-sjokoladegereg. Japan se wenskeppings het staatgemaak op verskeie tradisionele elemente, waaronder Kyomi-lemoen, wafelbeskuitjies wat van rys gemaak is en ‘n herhalende naaldekoker-tema. Frankryk het die silwermedalje gewen en Maleisië brons, wat die Suidoos-Asiese land se beste vertoning tot nog toe in die kompetisie is.
# En ten slotte: Die organisasie Cupcakes of Hope het Valentyns-teddiebeertjies bekendgestel om liefde en ondersteuning aan kankerpasiënte te bied. Elke beer, wat met hartvormige koekies uitgedeel word, het ten doel om die nie-winsgewende organisasie te help befonds om verligting aan kankervegters te bied. Die 15de Februarie is Internasionale Kinderkanker-bewusmakingsdag, en die beertjies sal teen 1 Februarie uitgestuur word, net betyds vir Valentynsdag. Cupcakes of Hope het reeds meer as 10-duisend gesinne bygestaan wat ‘n stryd teen kanker voer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….