Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse komediant en voormalige aanbieder van die Daily Show, Trevor Noah, gaan die vyfde agtereenvolgende jaar die jaarlikse Grammy-toekennings aanbied. Hy sal ook as ‘n vervaardiger van die regstreekse vertoning optree. Die 40-jarige Noah is benoem vir die beste komedie-album vir sy Netflix-produksie, Where Was I. Die Recording Academy sê vanjaar se seremonie het ʼn hernude sin van doelgerigtheid met bykomende pogings om verligting te bring ná die brande in Kalifornië. Die 67ste Grammy-geleentheid vind op Sondag, 2 Februarie, in Los Angeles plaas.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie sê hy gaan voort met sy Impactful-uitruilprogram in samewerking met ander instellings. Die program is gemik op die verbetering van onderwys en navorsing en die versterking van kulturele bande. Altesaam 51 TUT-studente het verlede jaar aan die program deelgeneem, insluitend sewe honneurs-Ingenieurstudente wat na Parys gereis het vir die Kruis-beweeglikheidsprogram by die Universiteit Gustave Eiffel. TUT sê die samewerkings is ‘n weerspieëling van die instelling se toewyding om studente met wêreldklas-kennis en-ondervinding toe te rus.
# Sowat 1,4-miljard mense het in 2024 internasionaal gereis, wat 99-persent is van dié in 2019 – die laaste volle jaar voor Covid-19 uitgebreek het. Dit is volgens die Verenigde Nasies Wêreld-toerisme-organisasie se 2024-oorsig van die jaar. Europa, met 747-miljoen toeriste, is die vasteland wat die meeste besoek is. Frankryk het die meeste besoekers ontvang met 100-miljoen mense wat onder meer deur die Olimpiese Spele en die heropening van die ikoniese Notre Dame-katedraal gelok is. Die organisasie sê 74-miljoen mense het na Afrika gereis wat 12-persent meer is as in 2023.
# Meer as een-duisend-400 paartjies van dieselfde geslag het in Thailand getrou nadat die Wet op Huweliksgelykheid bekragtig is. Thailand is slegs die derde land in Asië wat huwelike tussen mense van dieselfde geslag wettig. Taiwan het dié stap in 2019 gedoen en Nepal in 2023. LGBTQ-paartjies het nou dieselfde regte as ander paartjies wat die bestuur van bates, erflatings, aanneming en besluite oor lewensmaats se mediese behandeling betref. Die regering sê dit wys Thailand is gereed om verskeidenheid te omarm en liefde in al sy vorms te aanvaar.
# En ten slotte: ‘n Maine Coon-kat genaamd Mittens het binne 24 uur drie reise tussen Australië en Nieu-Seeland onderneem nadat haar krat in ‘n vragruim misgekyk is. Haar eienaar, Margo Neas, het van Nieu-Seeland na Melbourne verhuis en Mittens was op dieselfde vlug as sy en haar seun. Met hul aankoms in Melbourne was sy skoonveld. Na ure se bekommernis het lughawe-owerhede laat weet Mittens is gevind maar is op pad terug na Christchurch. Reis nommer drie het haar uiteindelik na Melbourne teruggebring, waar sy met haar verligte eienaar herenig is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….